“Die onwettige besetting van gemeenskapswooneenhede ontneem regmatige en geregistreerde aansoekers, wat geduldig hul beurt afwag om met huurbehuising gehelp te word, van dié geleentheid.”

Só beklemtoon die Stad Kaapstad nadat ’n plaaslike pensioentrekker haar na die koerant gewend het uit vrees dat sy uit ’n munisipale huureenheid gesit en sonder heenkome gelaat sal word.

Dié 66-jarige inwoner van Macassar se vrese spruit uit die verlies van ’n familielid wat die eenheid gehuur het en haar mislukte pogings om as mede-inwoner vir die huur van die eenheid te kwalifiseer.

Luidens ’n brief wat per e-pos deur die pensioentrekker ingestuur is, het sy ná die dood van haar suster verskeie kere die behuisingskantoor genader oor die huur van die eenheid, wat voorheen die tuiste van haar oorlede ouers en nog een van haar sibbe was. Sy het glo by haar suster, wat siek was, ingetrek om haar te versorg en het tot haar sterwensdag na haar omgesien.

Aangesien haar suster geen kinders gehad het nie, het sy as oorlewende mede-inwoner in die eenheid aangebly. Sy is egter, weens redes wat die pensioentrekker nie aan die koerant bekendgemaak het nie, versoek om die eenheid te ontruim – ná verskeie mislukte pogings om as huurder van die eenheid te kwalifiseer of om die eenheid as aangestelde eksekuteur van haar oorlede suster se boedel te bekom.

In terugvoer op die koerant se navraag het die Stad bevestig dat hulle bewus is van die pensioentrekker se situasie en onthul dat sy nie kwalifiseer vir die huur van die eenheid nie, aangesien sy reeds ’n begunstigde is van ’n huis as deel van die nuwe Breaking New Ground-behuisingsprojek in Macassar.

“[Sy] het reeds die vereiste dokumente vir die okkupasie onderteken en sal na verwagting deel wees van die eerste groep begunstigdes wat in die komende weke in hul huise intrek,” het die terugvoer gelui.

Die Stad het verder gesê die pensioentrekker en twee ander gesinne wat hulle in ’n soortgelyke posisie vind, kan nie vir twee behuisingsgeleenthede gelyktydig kwalifiseer nie.

“Die Stad het reeds daardie gesinne dienooreenkomstig bygestaan ??en van raad bedien, aangesien hulle nie terselfdertyd vir twee Stadsbehuisingsgeleenthede kan kwalifiseer nie.

“Die Stad se departement van openbare behuising reik kennisgewings uit aan inwoners wat die Stad se wooneenhede onwettig bewoon.

“Die Stad het ’n aantal gevalle geïdentifiseer waar huureenhede onwettig beset is.

“Ons doen ’n beroep op inwoners wat as die onwettige besetters van ’n Stadseenheid geïdentifiseer is, om hul plaaslike behuisingskantoor te besoek met die vereiste dokumente sodat hulle vir normalisering oorweeg kan word.

“In baie gevalle het die departement bevind dat baie inwoners wat eenhede onwettig bewoon, óf nie op die Stad se behuisingsbehoefteregister is nie, óf baie onlangse aansoekdatums het.

“Ons kan nie toelaat dat mense in diewaglys opspring nie, aangesien dit geleenthede wegneem van aansoekers wat die korrekte prosedure van registrasie op die behuisingsdatabank gevolg het en wat geduldig wag om bygestaan ??te word.

“Die Stad se toewysingsbeleid maak ook voorsiening daarvoor dat inwoners met permanente ongeskiktheid en mediese toestande vir normalisering as die regmatige huurders oorweeg kan word, onderhewig daaraan dat hulle aan die kwalifiserende vereistes voldoen.”

Die Stad verduidelik voorts dat die huur, in die geval van die dood van die huurder, oorgedra kan word aan die langslewende gade/vennoot, wat op die perseel moet woon, maar minstens twee jaar voor die sterfte.

Die huurperiode begin die dag ná die dood van die huurder soos aangeteken op die doodsertifikaat.

In die geval van dood van die langslewende lewensmaat/gade of waar daar geen gade/vennoot is nie, sal die volgende geld:. Waar die oorblywende bewoners die minderjarige kinders van die oorlede huurder is, kan die huur oorgedra word aan ’n wettig aangestelde voog, met volle verantwoordelikheid vir die huur, totdat die oudste kind die ouderdom van 18 jaar bereik wanneer die verantwoordelikheid vir die huur hersien sal word; of. Waar daar geen minderjarige kind/kinders van die oorlede huurder is nie, kan die huur oorgedra word aan ’n familielid wat daar woon op voorwaarde dat hy/sy deel is van die oorspronklike gesin wat gehuisves is (verskyn op die huidige gesinsvorm of gelys op die huurlêer) en woon vir ’n ononderbroke tydperk van minstens twee jaar by die huurder in die aanloop tot die dood van die huurder. Voldoende bewys van verblyf moet ingedien word. Die bewys gelewer moet nie ouer as vyf jaar voor die dood van die huurder wees nie; of hy/sy het sedert geboorte in die eiendom gewoon en vir ’n ononderbroke tydperk van minstens twee jaar by die huurder gewoon voordat die huurder oorlede is. Voldoende bewys van verblyf moet ingedien word en moet nie ouer as vyf jaar voor die dood van die huurder wees nie.. Indien meer as een familielid vir die huur in aanmerking kom, sal ’n aanbeveling deur die plaaslike behuisingskantoor in oorleg met die familie gemaak word op grond van die familie- en huurgeskiedenis, dit wil sê die huidige gesinsvorm.

Indien geen konsensus deur die familie bereik kan word nie of indien geen kommunikasie van die gesin ontvang word binne 30 dae nadat skriftelik versoek is om dit te doen nie, sal ’n finale besluit deur die Stad se Sakekomitee geneem word gegrond op bykomende vereistes wat in die volgende volgorde toegepas sal word:V Tydsduur van verblyf by huidige huureenheid sal in ag geneem word; d.w.s. die mense met die langste verblyftydperk of die bewoner met die minste onderbroke verblyf sal voorkeur geniet;V Chronologiese ouderdom sal geld indien kandidate dieselfde lengte van verblyf het – dit wil sê die oudste bewoner wat aan die geskiktheidsvereistes voldoen, sal voorkeur geniet;V Indiensnemingstatus sal oorweeg word ten tyde van die ToT-aansoek, dit wil sê ’n familielid met ’n vaste inkomste sal voorkeur geniet.

Benewens dat die onwettige besetting van ’n Stad-huureenheid ander van die behuisingsgeleentheid ontneem, verduidelik die Stad, sit dit ’n stelsel van informaliteit voort aangesien onwettige bewoners nie wettige kontrakte met die Stad Kaapstad het nie en dus nie huur betaal nie. Laasge­noem­de word gebruik vir die instandhou­ding van die wooneenhede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article