Sidney Gilroy praat oor sy nuwe boek Bloedsomer.Foto: Rick Marais


’n Afrikaanse skrywer wie se naam op almal se lippe is en wie se boeke al hoe meer en meer aftrek begin kry, het onlangs met sy nuwe pennevrug by Strand-biblioteek besoek afgelê.

Sidney Gilroy, ’n 43-jarige boorling van die Vrystaat wat deesdae in Reebok naby Mosselbaai woon, vertel sy nuutste boek is nie deel van ’n reeks nie, maar die eerste in [’n nuwe] reeks en het ’n karakter wat in een van sy vorige boeke verskyn het, maar dié karakter was nie juis een van die mees geliefde karakters nie.

Gilroy het verlede Woensdag (17 April) met ’n groot groep vroue by Strand-biblioteek in gesprek getree oor Bloedsomer, wat onlangs vrygestel is. Petunia Moraleng verskyn in dié boek, maar sy is haar rang kwyt, is nie meer die stasiebevelvoerder nie en is ook nie meer in die Vrystaat nie – sy is in Mooibaai (Gilroy se denkbeeldige dorp in Bloedsomer) en in die dorp is sy ’n konstabel – nie meer ’n kaptein nie.

“Lesers het Petunia in Vlam leer ken. Sy was nie ’n baie nice mens nie. Sy was ’n polisiekaptein en sy was net daar vir haar salaris. Petunia was toe al ’n rissiepit. Sy was in Vlam by ’n misdaadtoneel en het ’n swembad gesien en gedink sy sal sommer net so in haar bra en panty in die swembad kan spring, want dit was so warm,” vertel Gilroy.

Hy brei verder uit dat Petunia nie ’n gewone karakter is nie.

“Ek moes in my nuwe boek dinge só skryf dat mense van Petunia hou. Hoe swaai ek jou opinie van ’n lui staatsdienswerker? Ek kom toe tot die gevolgtrekking dat ek haar rang moet wegvat. Sy val toe van kaptein na konstabel en word van die Vrystaat na Mooibaai oorgeplaas,” voeg hy by.

Petunia werk saam met speursersant JP Hendricks in Mooibaai aan ’n moordsaak met die enigste leidraad wat ’n albaster is wat in die eerste slagoffer se hand gekry is, en só moet Petunia en haar baas die moord oplos.

Maar waarom ’n denkbeeldige dorp en nie ’n regte een nie?

“Die boek het my die perfekte geleentheid gegee om ’n denkbeeldige dorp te skep. Mooibaai het daar sy ontstaan gehad. Dit lyk soos baie ander vakansiedorpe, maar bestaan nie regtig nie,” voeg hy by.

Gilroy sê hy het in al sy boeke sekere temas aangedurf, en in die nuutste takel hy die moeilike tema van haweloosheid.

En al het hy al vier boeke en een saamskryf-boek agter die rug, beskou Gilroy homself nog nie as ’n skrywer nie en noem hy sal homself eers ná boek nommer tien ’n skrywer noem. “Vir my is skryf die lekker gedeelte. Dit kan soms drie tot ses maande vat om ’n boek te skryf. Ek het Vlam in vier dae geskryf – ek het oor ’n Paasnaweek agter my lessenaar ingeskuif en eers die Dinsdag opgestaan toe die boek klaar is.”

Sidney vertel ná al die skryf – mits ’n uitgewer jou boek goedkeur – volg die herskryf en dan moet ’n skrywer seker maak dat daar geen kontinuïteit-foute in die boek is nie.

Lesers en ondersteuners van Sidney Gilroy het al die stoele in Strand-biblioteek vol gesit by die boekpraatjie oor sy nuwe pennevrug. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article