Die beskuldigde Jason de Bruyn, wat saam met drie ander in verband met ’n moordsaak van 2014 aangekla is, is Maandag 29 April in die Strand-streekshof gevonnis.
De Bruyn is ’n lewenslange vonnis van 25 jaar gevangenisstraf vir moord opgelê, asook twee jaar tronkstraf vir dwarsboming van die gereg. Sy vonnisoplegging volg byna 10 jaar nadat die lyk van ’n broodafleweraar langs die kuspad naby Gordonsbaai gevind is en De Bruyn en drie ander, insluitend die weduwee van die vermoorde Strand-sakeman Darryl van Reenen, in Oktober 2022 in verband met die voorval in hegtenis geneem is (“Weduwee van vermoorde sakeman in hof,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 19 Oktober 2022).
Dié koerant het voorheen berig dat ’n lyk van ’n man met verskeie steekwonde Maandag 25 Augustus 2014 om 08:45 by ’n uitkykpunt op die R44 ontdek is. Dit is later deur die media vasgestel dat dit die lyk van Edmond Chinzete was, wat broodaflewering in Nomzamo en Lwandle gedoen het.
Volgens die provinsiale polisie het deeglike ondersoekwerk deur speurders van die teenbende-eenheid tot die inhegtenisneming van die vier verdagtes, tussen die ouderdomme 27 en 46 jaar, gelei.
Darryl, die eienaar van Darman Suppliers, is Dinsdag 27 Augustus 2019 in ’n gewapende rooftog by sy onderneming doodgeskiet (“Skote klap in Strand: Sakeman doodgeskiet, 29 Augustus 2019).
Hy het ’n verspreidingsonderneming, wat daagliks noodsaaklike produkte soos brood, melk, suiwelprodukte en verskeie publikasies versprei, saam met sy vrou, Mandy, bestuur.
Niemand is nog in verband met sy moord in hegtenis geneem nie.
Die moordsaak van Chinzete is toegewys aan speursersant Marlon Appolis van die teenbende-eenheid, wat die saak met omsigtigheid ondersoek het.
“Die beskuldigde is skuldig bevind nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het vir die moord wat op 24 Augustus 2014 plaasgevind het. Tydens hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat die beskuldigde en drie ander die oorledene vermoor en sy liggaam in Clarence Drive, Gordonsbaai, gestort het. Een van die beskuldigdes het ’n staatsgetuie geword en die aanklagte is teruggetrek. Die saak teen die twee ander beskuldigdes is tot Woensdag 15 Mei in die Strand-landdroshof uitgestel,” dui ’n verklaring van die provinsiale polisie se mediakantoor aan.
“Die polisiebestuur in die Wes-Kaap het die vonnis wat De Bruyn opgelê is, verwelkom.”


