Die Macassar-polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om inligting te verskaf wat kan help om twee lyke te identifiseer.
Die lyke is dié van twee onbekende mans. Een se liggaam is in die polisiëringsgebied aangetref en die ander was die slagoffer van ’n noodlottige padongeluk.
Volgens ’n Macassar-polisiewoordvoerder is die liggaam van ’n vermeende middeljarige man Donderdagmiddag (16 Mei) in ’n bebosde gebied in die omgewing van Monwabisi ontdek.
Polisiebeamptes het omstreeks 16:30 op die voorval gereageer nadat ’n houtkapper op die gruvonds afgekom en owerhede na die toneel ontbied het.
“Die oorledene was geklee in ’n blou Vodacom T-hemp en blou jeans. Hy het geen skoene aangehad nie. Daar word vermoed dat die swart man met ’n donker gelaat moontlik tussen die ouderdom van 45 en 50 jaar kon wees. Hy het geen sigbare beserings gehad nie,” het die polisiewoordvoerder gesê.
’n Geregtelik doodsondersoek is deur die polisie geopen en enigiemand met inligting word versoek om na vore te kom.
Die polisie benodig ook hulp met inligting om die naasbestaandes van ’n man wat saam met sy hondjie in ’n padongeluk omgekom het, op te spoor.
Volgens die polisiewoordvoerder het die slagoffers aan veelvuldige beserings beswyk nadat hulle deur ’n Isuzu-bakkie op die N2 getref is.
Die voorval het Woensdag (15 Mei) omstreeks 06:00 naby die Kramatbrug plaasgevind toe die voetganger en sy vierpotige vriend glo die snelweg probeer oorsteek het.
Die man en sy hond het na bewering van Macassar in die rigting van Firgrove geloop toe die voertuig, wat van Kaapstad in die rigting van Somerset-Wes beweeg het, die twee getref het. Die botsing het gevolg toe die bakkiebestuurder glo bane verwissel het om ’n voertuig verby te steek.
Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, maar benodig inligting om die man en sy beste vriend te identifiseer.
Die slagoffer, ’n bruin man van donker gelaat met kort, donker hare en ’n bles is moontlik tussen die ouderdom van 35 en 45 jaar. Hy het ’n rooi Manchester United T-hemp aangehad. Die woef is ’n basterhond, moontlik ’n Jack Russel-kruising.
Indien enigiemand ’n geliefde soek waarby hierdie beskrywing pas, word die persoon versoek om die polisie te kontak.
Mense met inligting kan kapt. Andries Geldenhuys by 082 469 3336 bel.. ’n Lyk, vermoedelik dié van ’n beweerde slagoffer wat in ’n vermeende bendeverwante voorval in Mitchells Plein ontvoer is, is Saterdag (11 Mei) op die strand in Macassar gevind. Die saak word deur die Lentegeur-polisie ondersoek.



