Die Hoërskool Parel Vallei (PV) verwelkom Wanri Venter as die nuwe buitemuurse onderhoof.

“Baie welkom by die Parel Vallei-familie!” sê die skool in ’n mediaverklaring.

“Ons wens is dat sy haar tyd by PV ten volle sal geniet terwyl sy haar kennis en vaardighede aanwend om saam met die PV-span uitnemendheid na te streef in ons gees-, siel- en liggaam-benadering tot onderwys aan seuns en meisies.”

Venter het in Stellenbosch grootgeword, skoolgegaan en ook aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, waar sy haar B Sportwetenskap (Hons)-graad en hoëprestasie-afrigtingskwalifikasie verwerf het.

Voordat sy by PV aangesluit het, het sy in die Paarl by La Rochelle as sporthoof gewerk en voor dit by die Groen Skool Suid-Afrika. Sy het voorheen ook by Thomas More College in Kloof, KwaZulu-Natal, gewerk.

Venter is ook ’n internasionale hokkieskeids­regter en tans op die Olimpiese paneel.

Sy is een vir uitdagings en het nie net by Parel Vallei se bestuurspan aangesluit nie, maar is ook as skeidsregter by die Olimpiese Spele in Parys in Julie vanjaar aangestel.

In haar vrye tyd kan jy haar met haar tekkies aan kry waar sy die berge verken.

Sy geniet ook lekker koffie en braai saam met vriende en familie.

’n Besoek aan wynplase is ook hoog op haar lys.

In antwoord op die vraag waarom sy by Parel Vallei aansoek gedoen het, het Venter gesê: “Die Hoërskool Parel Vallei se slagspreuk, ‘Tungu’, is een van die groot redes wat my hierheen gelok het. Ek glo deursettingsvermoë is een van die belangrikste eienskappe wat elke mens in die lewe nodig het. Ek wil graag hê die ouers en leerders moet besef die toekennings waarna almal op skool streef moet nie die belangrikste mylpaal vir ons leerders wees nie, maar dit is belangriker watter soort mens jy is en hoe jy ander mense in jou lewe hanteer.

“Wees vriendelik, gee om en behandel ander met respek.

“Ek sien daarna uit om die PV-kultuur langs die sportveld of by kultuur­geleenthede, van mekaar en die bereidwilligheid om ander voor jouself te stel, te ervaar.”

Die mediaverklaring lui verder: “Namens al die Parel Valleiers en die beheerliggaam verwelkom ons me. Venter as deel van ons Bloudraad-familie! Ons glo sy sal help bou op die uitnemendheid wat reeds by Parel Vallei bestaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article