Net soos teen Valsbaai, met ’n oortuigende vriendskaplike oorwinning en ’n vernederende liga-nederlaag vir Helderberg, het dieselfde weer eens teen Unie-Milnerton Saterdag (15 Junie) in die Superliga-A-wedstryd in die Charles Morkel-stadion gebeur.
Berge het Saterdag 9 Maart met 38-7 teen Unimil gewen en nou swik die tuisspan met 38-39. Hoekom gebeur dit? Is daar fout met die ingesteldheid?
Berge het ná 23 minute 21-5 voorgeloop nadat ’n strafdrie en drieë deur Hughwan Engelbrecht en Kurt Titus aangeteken en deur Michael Visser verdoel is. Unimil het in die oorblywende 17 minute 19 punte opgestapel met drie drieë wat die rustydtelling na 21-24 geneem het.
In die tweede helfte het Berge te kort geskiet aan afronding en uitvoering, om nie te praat van gebrekkige verdediging nie. Maar tog het sy agtsteman en kaptein, Conway Pretorius, met twee puik drieë uitgeblink en Jodi Koul met ’n hoekdrie geskitter. Unimil het egter drie onverdoelde drieë vir ’n welverdiende 38-39-sege bygevoeg.
Ander uitslae: Helderberg II 30-21 Unimil II; Helderberg III 41-17 Unimil III; Helderberg o.20 81-5 Unimil o.20; Helderberg IV 10-10 Valsbaai V.
Saterdag (22 Junie) speel Helderberg weg teen Brackenfell.
In nog ’n Superliga A-wedstryd wat Saterdag in die Kom gespeel is, het St. George’s-rugbyklub ’n teleurstellende 12-15-nederlaag op sy tuisveld teen Kuilsrivier in die gesig gestaar.
Die tuisspan se drieë is deur die vleuel Dwayne Raubenheimer en die agtsteman Riyaad Adams aangeteken; die heelagter Curtley Hendrickse het een drie verdoel.
Die wedstryd is hewig betwis, met Kuilsrivier se gedugte pak voorspelers wat die skrums oorheers en die pas aangegee het. Ten spyte van die meedoënlose pogings van die Lulu Boys, was dit die besoekers se kragtige skrumwerk wat die weegskaal in hul guns laat kantel het.
Die beslissende oomblik het aangebreek toe St. George’s reg voor die pale ’n strafdoel toegeken is. In ’n omstrede besluit het die span se stut gekies om die bal te laat hardloop in plaas daarvan om die tellings met ’n skop gelyk te maak.
Die waagstuk het nie vrugte afgewerp nie, en St. George’s het met drie punte te kort geskiet.
Hierdie verlies beklemtoon die deurslaggewende rol van taktiese besluitneming in hoë-inset-rugby – ’n les wat pynlik deur die Lulu Boys in hul nederlaag geleer is.



