Twee plaaslike ouers is in rou gedompel nadat hul geliefde en enigste seun in ’n ongeluk omgekom het.
Die voorval het Donderdagaand (27 Junie) in Gordonsbaai afgespeel en die lewe van 33-jarige Anthonie “Tonie” Lotriet geëis.
Volgens sy ouers, was Tonie en sy lewensmaat uit die kusdorp op pad terug huis toe na Strand toe die noodlot tref.
Luidens ’n polisieverslag is lede omstreeks 18:30 na die ongelukstoneel in Gordonsbaai-weg oorkant Harmony Park ontbied.
Met hul aankoms het polisie die motorvoertuig, ’n Renault Clio, langs die pad halfpad bo-op ’n betonversperring gevind.
’n Saak van strafbare manslag is geopen en omstandighede rakende die botsing vorm deel van die polisieondersoek.
“Die vermoede is dat ’n wit 4×4-bakkie met ’n kappie ons kinders op ’n tydstip van die pad sou gedruk het, wat veroorsaak het dat Tonie se lewensmaat, wat bestuur het, direk teen ’n sementblok aan die kant van die pad gebots het,” vertel Tonie se bedroefde moeder, Desiree.
Die 53-jarige ma herroep dat alles swart geword het toe nooddienspersoneel van GB Med Rescue hulle met die nuus van die ongeluk gebel en lede van die verkeersdepartement later aan hul deur kom klop het om hulle na die toneel te vergesel.
“Daar is geen manier om die skeur in jou siel te beskryf nie,” voeg sy by.
Tonie is op die toneel oorlede en die vroulike insittende is met beserings na die Helderberg-hospitaal vervoer. Die 30-jarige slagoffer is weens die erns van haar beserings later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Sy is tans in ’n kritieke maar bestendige toestand.
“Behalwe vir ons harte wat intens gebroke is omdat ons ons geliefde en enigste seun verloor het, het ons berusting gevind in die feit dat hy by ons Abba Vader is,” het Desiree gesê. “Die grootste berusting kom in die feit dat hy soveel ander se lewens gaan red aangesien hy ’n orgaanskenker is.”
Die ouer het haar seun verder beskryf as ’n liefdevolle omgeemens. “Hy het ’n groot hart gehad, maar was ’n groter gewer. Tonie het elke vertrek verlig waarin hy ingestap het. Hy was ’n man met integriteit en het soveel vriende en familie bymekaargebring.”
Volgens Desiree het sy Tonie bewonder as die wonderlikste pappa wat hy vir sy twee seuntjies, 3 en 4 jaar oud, wat tans in Moorreesburg by hulle mamma woon, en vir sy lewensmaat se negejarige dogtertjie, wat hy soos sy eie liefgehad het. Daarbenewens sal sy hom vir ewig onthou vir sy lag, sy groot persoonlikheid en sy onbaatsugtige liefde.
Tonie word oorleef deur sy ouers, Lowrens en Desiree Lotriet, ’n groot uitgebreide familie, sy drie kinders en sy lewensmaat, wat steeds om haar lewe in die hospitaal veg.
Tonie se lewe sal gevier word met ’n private gedenkdiens wat om 14:00 eerskomende Saterdag (6 Julie) gehou sal word. Die diens sal via sosiale media regstreeks uitgesaai word en ’n skakel sal beskikbaar wees vir diegene wat dit wil volg.
Die Lotriet-egpaar doen verder ’n beroep op ooggetuies of enigiemand met inligting oor die botsing wat moontlik sal help om die wit bakkie te identifiseer, om na vore te kom.
“Dit sal nooit die seer wegneem nie, maar dit sal tog berusting bring in die feit dat dié mense verantwoording moet doen vir hul deel in die tragiese voorval,” het Desiree gesê.
Hulle bemoedig ook ander aan om orgaan- en weefselskenkers te word en sodoende geliefdes laat help voortleef deur ander te help.VVir meer hieroor, besoek die Organ Donor Foundation se webtuiste https://odf.org.za/



