Die Macassar-polisie is besig met ‘n moordondersoek na ‘n noodlottige aanranding wat die lewe van Brendon Kemp, ‘n 42-jarige man, geëis het. In ‘n afsonderlike voorval is die lyk van ‘n jong man, ook van Macassar, Sondagmiddag in ‘n woning in Cloetesville, Stellenbosch, gevind.


Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n middeljarige man die slagoffer van ’n noodlottige aanranding geword het.

Die voorval het Maandag (1 Julie) in die vroeë oggendure in die Bell Glen-gemeenskap afgespeel en die man, wat as die 42-jarige Brendon Kemp bekend is, van sy lewe ontneem.

Luidens ’n polisieverslag is plaaslike polisiebeamptes omstreeks 03:00 na die toneel in Anthuriumstraat ontbied. Met hul aankoms het hulle Kemp se lewelose liggaam aangetref. Die slagoffer van ’n beweerde aanval wat glo uit ’n stryery spruit, het noodlottige kopbeserings opgedoen en is deur nooddienspersoneel op die toneel dood verklaar.

“Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek,” het die polisieverslag aangedui.

Twee verdagtes is later in verband met die aanval in hegtenis geneem en sal nadat hulle amptelik aangekla is na verwagting in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. . In ’n afsonderlike voorval is die lyk van ’n jong man van Macassar Sondag (30 Junie) omstreeks 16:30 in Cloetesville, Stellenbosch, aangetref. Die gruvonds het skokgolwe deur White City gestuur.

Volgens inligting is die oorledene in ’n badkamer van ’n woning dood aangetref. Dit is onbekend wat die motief vir sy dood is, maar die voorval kom slegs dae nadat Harlene Meyer (49) op pad werk toe in die kruisvuur van skieters beland het en in Pinestraat, Cloetesville, oorlede is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article