Donelle “Pakkie” Snyders


Wat weeg 62 kg, is 169 cm lank en draf eersdaags weer amptelik as lid van die Springbok-vroue-7’s-span op die veld uit?

Jy’t reg geraai – dis die 23-jarige senter Donelle “Pakkie” Snyders van Strand!

Dié pakkie dinamiet is verlede Maandag (8 Julie) weer amptelik as lid van die span ingehuldig en het met trots haar 7’s-span-pet by ’n spoggeleentheid by die Cape Sun-hotel in die Moederstad ontvang.

Pakkie is al ’n jaar lank op kamp in Stellenbosch as lid van die span, maar was vir ’n tydjie buite aksie weens ’n besering waarvoor sy noodgedwonge ’n operasie moes ondergaan. Sy het twee maande gelede haar langverwagte terugkeer na die span gemaak, maar dít was van korte duur, want dié ywerige speler het tydens ’n kragmeting in Hong Kong harsingskudding opgedoen. Gevolglik moes sy weer uitsit totdat haar dokter haar verlede week die groen lig gegee het om weer te speel.

Sy het Saterdag (13 Julie) ook as ’n lid van die senior Westelike Provinsie-vrouespan op die veld uitgeblink.

Dié jong rugbyspeler se avontuur met die Springbok-vroue-7’s-span het begin toe sy in 2020 na ’n kamp genooi is. Sy het haar buiging in Augustus 2020 teen Kenia gemaak, waar die span twee keer gewen het.

Donelle, wat as kind teen seuns raakrugby gespeel het, het bekendheid verwerf as “Pakkie Chips”. Haar vaardighede is ontwikkel met hulp van plaaslike afrigters en sy het in Cravenweek-toernooie uitgeblink. Sy bewonder Damian Willemse, ’n rolmodel wat dieselfde posisie as sy speel.

“Ons is baie trots op my kind wat bo haar omstandighede uitstyg en nooit haar droom opgee nie!” het haar ma, Lizette, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article