Die Morawiese kerk in Macassar het weer eens onder genadelose inbrekers deurgeloop en gemeentelede doen ná die soveelste voorval ’n beroep op mede-inwoners om gemeenskapsgees te beoefen en nie net ’n waaksame oog te hou nie, maar te help om die vermeende kwaaddoeners te stuit.
Die Immanuël-gemeente, wat op die hoek van Iris-weg en Link-laan geleë is, is op Mandeladag (Donderdag 18 Julie) deur vermoedelik ’n groep van vier inbrekers geteiken.
Volgens die bestuurslid Titus Cookson (63) ly die gemeente groot finansiële verlies weens skade ná die voorval wat die vyfde oor ’n bestek van twee jaar is.
Cookson sê hy en ’n medebestuurslid is kort voor 07:00 na die kerk ontbied nadat iemand by die kleuterskool langsaan gehoor het hoe die inbrekers aan die kerkdeur stamp en timmer. Gevolglik is die owerhede in kennis gestel en die gemeentelede het hulle na die toneel gehaas om ondersoek in te stel.
“Ons het kom oopsluit; die alarm se liggie het op daardie tydstip nog geflikker. Ons het gesien een van die voorste vensters was oop; die diefwering was gedeeltelik oopgebuig. Die veiligheidshek is met vermoedelik ’n koevoet oopgebreek, en die voordeur se panele is uitgeslaan,” het Cookson gesê.
Die gemeentelede se hoop dat niks gesteel is nie, het vervaag toe hulle die kerk oopsluit en vind dat die ketel en ’n elektriese koord weg is. “Ek verneem dat hulle versteur is, want al die ligte het gebrand en die mikrogolfoond was aangeskakel,” het Cookson gesê.
Hoewel die gebuite goedere min werd is, bly die probleem ernstig.
Cookson verduidelik voorts dat inbrekers in ’n vorige inbraak deur die einste venster wat oop gevind is, ingebreek en ’n dataprojektor en mikrofone gesteel het. Hy vertel ook dat die kerk steeds swaar trek ná sy grootste verlies met die heel eerste inbraak toe misdadigers die traliehek en voordeur oopgebreek en die kerk “leeggedra” het.
“Hulle het alles gevat – tot die borde en koppies, en selfs die mikrogolfoond en yskas met die kerk se kruiwa.”
Op die vraag waarom hy dink die kerk geteiken word, het Cookson gesê: “Ek weet nie. Miskien dink hulle hier is belangrike en waardevolle goed. Ek weet nie, maar, dis ’n groot probleem.”
Volgens Cookson is dit noodsaaklik dat die gemeenskap weet dat die kerk, wat daar is vir hulle, geteiken word. “Ons gemeenskap moet waaksaam wees; hier is mense wat ons eiendomme en bewegings dophou. Die gemeenskap moet help om die kwaaddoeners vas te trek of te identifiseer – veral met owerhede wat ’n tekort aan hulpbronne ly.”



