Die oorblyfsels van die huisgesin se blyplek by die bekende Kays-woonwapark, waar die brand verlede Woensdag (24 Julie) uitgebreek het.Foto’s: Jamey Gordon


’n Plaaslike gesin is in sak en as gelaat nadat nog ’n verwoestende brand by Kays-woonwapark uitgebreek het.

Die voorval het vroeg verlede Woensdagoggend (24 Julie) by die woonwapark in Woltemadestraat voorgekom en na bewering verskeie van die gesin se troeteldiere geëis.

Marianne Janse van Rensburg het teen die trane geveg terwyl sy die tragiese gebeure, wat hul lewe omstreeks 05:00 verwoes het, Woensdagmiddag met DistriksPos & HelderbergGazette tydens ’n besoek aan die toneel herroep het.

Dié 63-jarige inwoner vertel hoe sy en die kinders wakker geword het toe hul huis deur vlamme verswelg word. Haar 17-jarige kleindogter, wat na bewering weens rookinaseming wakker geword het terwyl die brand gewoed het, het glo opgespring en in reddingsaksie oorgegaan. Sy het glo gehelp om die tweelingseuns (11) te ontruim en na veiligheid te bring. Haar hare het tydens die reddingspoging na bewering vlam- gevat en geskroei. Janse van Rensburg en ’n 22-jarige verstandelik gestremde meisie het ook die vlammehel ontsnap.

“Ons het nie eens geweet die huis brand nie; ons het geslaap. Die volgende oomblik hoor ek die kind skree, ‘Ouma, die huis brand!’ en toe is dit reeds te laat,” vertel sy deur die trane.

“Die vrou aan wie ek blyplek gegee het, het glo ’n kers in haar kamer laat brand, wat omgeval het. Haar pogings om die vlamme met water te blus, het egter misluk.”

Oorsaak nog nie amptelik

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het by navraag gesê die oorsaak van die brand is steeds onbepaald. Hy het wel bevestig dat brandweerspanne omstreeks 05:40 gereageer het op ’n noodoproep van ’n houthuis wat by Kays-woonwapark brand. Lede van Strand Patrol-buurtwag en beamptes van AM Security het ook op die voorval gereageer en bystand gelewer.

Carelse sê altesaam 24 brandbestryders van Strand-, Somerset-Wes-, Sir Lowry’s Pass-, Macassar- en Belhar-brandweerstasie is met vier brandweerwaens en twee watertenkers na die toneel uitgestuur. “Teen 08:00 was die brand, wat een groot informele struktuur en een wat lyk soos ’n woonwa of wendy-huis, vernietig en ses mense haweloos gelaat het, geblus,” sê Carelse.

Hoewel geen beserings aangemeld is nie, het die brand na bewering die lewe van verskeie troeteldiere geëis. “Ek het byna al my diere verloor.”

Op ’n vraag oor hoe sy oor die voorval voel, sê Janse van Rensburg, wat net verlede jaar haar man aan die dood afgestaan het: “Ek is kwaad. Ons huis is vernietig en my kinders se lewe was in gevaar. Waarheen moet ek gaan? Ek het niks.”

Sedertdien is ’n beroep op die gemeenskap gedoen vir skenkings van klere en skoene en huishoudelike produkte om die gesin te help om hul lewe te herbou.

Volgens Tracey Martin, woordvoerder vir Kays-woonwapark, het die gemeenskap getrou saamgespan en gehoor gegee.

Boonop is Janse van Rensburg en haar huisgesin kort ná die brand ’n dak oor die kop gegee en bly hulle danksy die woonwapark se eienaars tydelik in ’n ander struktuur.

Martin sê dit is tragies wat gebeur het en hulle is dankbaar dat die huisgesin die voorval ongedeerd oorleef het. Sy voeg by dat Kays-woonwapark in die toekoms as Kays-gemeenskap sal hervestig en as ’n organisasie sonder winsoogmerk bestuur sal word.

Martin verduidelik geldinsamelings­inisiatiewe is van stapel gestuur vir die toekomstige bouplan wat, indien dit deur die raad goedgekeur word, in fases uitgevoer sal word. Blyplekke sal glo vervang word met een-, twee- en drieslaapkamer-wonings wat uit Resin 8-boublokke (’n vervangingsmateriaal gemaak van ’n kombinasie van afvalplastiekharse) gebou sal word.

Die Kays-gemeenskap sal ook ’n vaardigheidsontwikkeling­sentrum bied.

Brandslagoffer Marianne Janse van Rensburg en haar huisgesin staar ’n harde werklikheid in die oë en moet hul lewens van die grond af herbou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article