’n Ma van Strand se inisiatief van agt jaar gelede om haar hekel- en breipenne te laat klik – nie net as tydverdryf nie, maar om poppies, baba-kombersies en prinses-rokkies vir haar dogters te maak – het die begin van haar eie klein onderneming ingelui.
Sedertdien het haar poppe gewildheid verwerf en danksy ’n toenemende aanvraag help haar kreatiwiteit en vaardighede nou om brood op die tafel te sit.
Salma Daggia (46) van Helderbergpark gebruik die Japannese hekel-en-brei-kunsvorm bekend as amigurumi om opgestopte figuurtjies en diertjies volgens haar klante se spesifieke idees onder die handelsmerk “Dolls by Salma D” te maak.
Sy skenk veral “lewe” aan kinders se gunstelingkarakters op televisie of in speletjies. Dit was juis ’n Sonic-krimpvarkie wat sy vir ’n klant se seuntjie gemaak het wat haar onderneming ’n waardevolle hupstoot gegee het. Die pop het tydens ’n uitstappie na ’n winkelsentrum in Durbanville die aandag van ander getrek, wat navraag gedoen het, en só het die woord oor Salma se poppe vinnig versprei – só goed en vinnig dat sy nie net op plaaslike bodem bestellings ontvang nie, maar ook navrae selfs van oorsese klante.
“Ek was nog altyd passievol daaroor om vreugde aan kinders te skenk; daarom dink ek dikwels aan myself as ‘Santa se Elf’. Dit laat die trane vloei elke keer wanneer ek foto’s en video’s van my klante ontvang wat wys hoe hul kleintjies met die poppe wat ek gemaak het, speel. Om hulle gelukkig en in hul element te sien, is ongelooflik vervullend,” deel sy.
Volgens Salma doen sy moeite met elke handgemaakte item, want aandag aan detail, topgehalte en klantetevredenheid is vir haar boaan die lys. “Ek wil slegs die beste produk aan my klein klante gee – hulle is die grootste kritici. As die produk nie volgens wense lyk en voel nie, gaan jy gou daarvan hoor,” sê Salma, wat gereeld haar eie drie dogters – 16, agt en ses – raadpleeg om klante se gewenste gevoel te toets.
Haar oudste dogter, Joshya, wat al van kleins af naaldwerk en brei en hekel ken, word dikwels vir groter bestellings ingespan. Volgens ’n trotse Salma spring dié ywerige helper dadelik in wanneer nodig en het sy onlangs ook op haar eie patrone begin werk.
Salma sê sy koester ’n natuurlike liefde vir die kuns om poppe te maak en het groot inspirasie uit haar grootouers, wat albei kunstenaars was, geput. “My tantes sê gereeld ek aard na my ouma, wat die wonderlikste goed kon brei en hekel.”
Salma het van jongs af al besef dat sy kreatief en kunstig is en het nadat sy aan Wynberg Sekondêre Skool gematrikuleer het, onder meer ’n kwalifikasie in tekstielontwerp en pottebakkery by Cape College verwerf. Sy is ook ’n gekwalifiseerde troukoördineerder en ervare fotograaf.
Salma het haar dankbaarheid uitgespreek aan al haar gereelde klante wat haar lojaal ondersteun asook haar man en kinders wat as onwrikbare steunpilare dien.
“Sonder hulle sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie,” sê Salma.
Sy voeg by dat sy steeds stomgeslaan en oorweldig voel met nederigheid wanneer mense haar in winkels raakloop en erkenning gee vir die werk wat sy doen.
“Aan al die opkomende of aspirant-kleinsake-eienaars gaan dit aan die begin stadig. Moenie moed opgee nie – jy sal goeie maande en slegte maande hê. Hou net jou kop hoog. Verder, laat alles oor aan geloof, gebed en geduld.”



