’n Matrikulant wat ’n lewe van swaarkry trotseer en met die kosbare ondersteuning en liefde van sy “ouma-mammie” streef om bo sy omstandighede uit te styg, doen ’n nederige beroep op die gemeenskap om sy matriekafskeid-droom te help verwesenlik.
JP Maasdorp, ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Gordon in Somerset-Wes, sien – nes vele ander – baie uit na die spesiale geleentheid op Woensdag 18 September om hul skoolloopbaan af te sluit met ’n ongelooflike tyd en kosbare herinneringe wat lewenslank gekoester sal word. Sy ouma, Dorothy Hendricks, wat hom en vier van sy sibbe grootgemaak en deur die skool gesit het, is egter nie finansieel daartoe in staat om haar geliefde kleinseun se droom vir ’n onvergeetlike matriekafskeid te bewaarheid nie.
“Ek sal uit my pad uit gaan vir hulle,” deel sy. “Met JP se aanneming kon ek nie ’n onthaal gee nie en hy het verstaan. Ander is baie lief vir JP – ek ook, al maak hy my soms baie befoeterd. Ek is outyds en maak hulle streng groot, nes my ma my grootgemaak het. Maar, hy is my staatmaker. JP doen dit, JP gaan soontoe, JP kom smeer my uit, JP, JP, JP . . . JP is so geduldig.”
Dié 67-jarige van Strand het sedert JP se geboorte ouerskap van dié middelkind en sy twee broers en twee susters aanvaar omdat hul ma, wat langer as twee dekades aan ’n dwelmgewoonte ly, onbevoeg verklaar is. Uit die drie pa’s wat betrokke is, is JP s’n nie in die prentjie nie nadat hy kort ná sy geboorte vir moord opgesluit is. Dit is ook die geval met sy twee jongste sibbe, wie se pa op 1 Januarie 2021 doodgeskiet is. JP se pa, wat twee maande ná sy geboorte in Oktober 2006 24 jaar gevangenisstraf opgelê is, is in Oktober verlede jaar op parool vrygelaat, maar het hom glo afgeskryf as sy kind. “Hy dra by tot niks in my lewe nie en dit maak seer, maar ek glo in ’n lewende God wat my krag gee,” sê JP.
’n Ouma se liefde
“My ouma is my alles. Sy is my ouma-mammie en my beste vriendin, en ek is onbeskryflik lief vir haar.”
Die voorbeeldige tiener het sy innige dankbaarheid uitgespreek teenoor sy ouma wat vir hulle sorg, en bid elke dag dat God haar net moet deurdra.
Hy het haar bedank veral vir haar swaar opofferings, insluitend die aande wat daar geen kos was nie en sy uit haar pad moes gaan om iets op die tafel te sit, of net genoeg vir hulle en sy gesê het sy het klaar geëet. “Ons lewe net op haar Sassa-geldjies, en wat dit nog erger maak, is dat borskanker op 28 Desember 2022 by my ouma gediagnoseer is,” voeg hy by.
Hendricks verduidelik dat sy ’n knop in haar linkerbors gevoel het en ’n doktersbesoek aan die Tygerberg-hospitaal borskanker bevestig het. Sy is met ’n opvolgbesoek verlede Maart meegedeel dat die kanker na haar longe, ribbes en bene versprei het en as vlak vier beskou word. Sy gebruik morfien om die ondraaglike pyn van haar toestand te verdoof en wag op Maandag 4 November wanneer sy ’n CT-skandering moet ondergaan.
“Maar, ek vertrou op God,” meen sy.
Asof die situasie nie erg genoeg is nie, is hul Rusthof-tuiste weens die swaar winterreën erg beskadig. “Die huis is in ’n haglike toestand,” deel sy.
“Die matte in die voorhuis is opgetel, en dit is die plek wat nou moet regkom vir die matriekafskeid. Die ander vertrekke gaan op ’n latere tydstip reggemaak moet word wanneer dit warmer is. Ons het glad nie ligte in die huis nie; dit wat hier is, is wat ek so koppel.
Huis oorstroom
“Die rede vir die oorstroming in die huis is die agterste deel wat deur die storm gekraak en water wat weens die probleem ingereën het.
“Ek het toe die agterdeur toegebou met twee lae baksteen sodat water nie meer kan inkom nie. Ek sal ook graag ’n deel agteraan wil hê, maar dit asook elektrisiteit sodat ek my stoof weer kan gebruik, en watertoevoer moet maar wag. Eers is dit die voorkamer wat ek wil reg hê vir die matriekafskeid.”
’n Nederige JP meen enige hulp word verwelkom en sal opreg waardeer word.
’n Skoolonderwyser wat JP se akademiese potensiaal raakgesien het en sy vasberadenheid waardeer, meen hulle hoop heelhartig dat iemand die lewenslustige leerder kan help. “Dit sal vir hom en sy familie die wêreld beteken,” sê die onderwyser.
“Hy is ’n entoesiastiese mens wat glad nie skaam is vir wie en wat hy is nie. Sy kop is reg aangeskroef en hy beeld goeie leierseienskappe uit.”
Die onderwyser meen dat dit sy voorbeeldige karakter was wat hom destyds deel gemaak het van die rolverdeling in die moordraaisel-televisiereeks Trompoppie op Showmax.
JP beskou hierdie oomblik, asook toe sy ouma die geleentheid gebied is om sy VRL-balkie vas te steek, as hoogtepunte. Hy hoop om ’n naskoolse kwalifikasie in verpleging, drama of onderwys te verwerf, en om eendag terug te kyk en te kan sê: “Dit was my mense wat my ondersteun het, en ek sal ewig dankbaar wees.”
- Om ’n helpende hand na JP uit te reik, kontak die tiener by 067 448 4768, 069 243 1359 of jpmaasdorp5@gmail.com.


