Sommige van die Macassar-behuisingsbegunstigdes saam met die lid van die burgemeesterskomitee vir menslike nedersettings, raadslid Carl Pophaim, en die raadslid vir Wyk 109, Peter Helfrich, agter.


Altesaam 32 kwalifiserende begunstigdes het verlede Donderdag (26 September) die sleutels van hul huise ontvang as deel van die Stad Kaapstad se mega-behuisingsprojek in Macassar.

Die R800-miljoen-projek, wat uit 2 469 huise sal bestaan nadat dit voltooi is, het ’n aantal uitdagings ervaar, insluitend geweld en betogings. Hierdie uitdagings is opgelos en die Stad doen ’n beroep op gemeenskapslede om die raad te help om die suksesvolle voltooiing van die vlagskipprojek te verseker.

“Die Macassar- behuisingsprojek vorder goed met sowat 381 eenhede wat tans in aanbou is met die eerste groepe eenhede reeds voltooi. Fase 1 sal uit 605 eenhede bestaan en hierdie fase sal na verwagting teen Junie 2025 voltooi wees, as alles volgens plan verloop. Die Stad sal mettertyd kommunikeer oor die vordering en tydlyne vir Fase 2 en 3. Die Stad het tot nou meer as R200 miljoen aan die projek bestee,” het die lid van die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, raadslid Carl Pophaim, gesê.

Hy het verduidelik dat die projek ’n aantal kompleksiteite ervaar het, insluitend afpersingspogings, geweld en betogings, en dat die Stad alles in sy vermoë doen om behuisingsgeleenthede aan die mees kwesbares te bied.

“Ons lewer behuisingsgeleenthede ten spyte van hierdie uiterste uitdagings. Macassar is ’n voorbeeld van hoe die Stad bedreigings deur afpersers oorkom en vasstaan in sy verbintenis om behuising te lewer. Ons spanne bly toegewyd om die Macassar-projek so gou as moontlik vir die begunstigdes en hul gesinne te voltooi,” het hy gesê. “Dankie aan ons gemeenskappe, die Stadspanne en projekbetrokkenheidskomitee vir die harde werk en toewyding om hierdie projek te voltooi en die regmatige begunstigdes in hul nuwe huise te laat intrek. Ons bedank veral diegene in die gemeenskap wat die projek beskerm het en verseker het dat hierdie sleutels vandag oorhandig kon word. Dit is die begin van ’n nuwe pad van moontlikhede vir hierdie projek.”

Begunstigdes van die Stad se behuisingsprojekte word gekies in ooreenstemming met die Stad se behuisingstoewysingsbeleid en behuisingsbehoefteregister om te verseker dat behuisingsge­leenthede op ’n regverdige en deursigtige wyse beskikbaar gestel word, wat indruk voor ander mense voorkom, en vir diegene wat kwalifiseer vir behuising ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article