Wetenskap kan uiteindelik prakties wees vir die leerders van Sir Lowry’s Pass Primêre Skool, danksy hul splinternuwe moderne Wetenskap- onderrig- en leersentrum (Science Teaching and Learning Centre).
Belanghebbendes het Donderdag (3 Oktober) in ’n klaskamer by die laerskool in Sir Lowry’s Pass bymekaargekom om die moderne laboratorium, wat op dié dag amptelik bekendgestel is, te besigtig. Almal was in verwondering omdat dit goed toegerus is met wetenskaplike toerusting, waaronder bekers, proefbuise en flessies. Die toerusting stel die leerders en onderwysers van die skool in staat om te droom van die eindelose moontlikhede wat die laboratorium hulle sal bied.
“Die laboratorium beteken baie vir die skool. Ons leerders kan uiteindelik wetenskap op die regte manier doen,” het die hoof, Charlton de Morney, gesê.
Die gr. 8-leerder Jaydin Stoffels het geborrel van opgewondenheid oor die nuwe bate wat wetenskaponderrig soveel pret sal maak.
“Ons kan die wetenskaplike eksperimente in ons handboeke vir die eerste keer uitvoer. Ons kan nou self kyk of dit werk,” het hy gesê.
Een van die skool se wetenskaponderwysers, Rachel Kriger, het hul borge bedank vir die laboratorium aangesien dit die skool toerus om toekomstige wetenskaplikes op te lei.
Die bou van ’n Wetenskap-TLC is ’n vennootskap tussen Advancing Knowledge NPC (AK NPC), Garden Cities Archway en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. Die doel daarvan is om die infrastruktuur waarin wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) onderrig word, te verbeter.
Sir Lowry’s Pass Primêr was een van vier skole in Kaapstad wat vanjaar ’n Wetenskap-TLC ontvang het. Dit bring die vennootskappe se totale aantal laboratoriums sedert 2011 op 111 te staan. Die doel van die Wetenskap-TLC’s is om die wetenskap-kurrikulum uit te brei en onderwysers en leerders te ondersteun. Die laboratorium is ’n beloning van die borge vir die toewyding van Sir Lowry’s Pass Primêr se wetenskaponderwysers, bestuur sowel as sy leerders vir hul verbintenis tot STEM.
“Ek dink nie maatskaplike omstandighede moet bepaal of ’n kind suksesvol is nie,” het Myrtle February, voorsitter van die Garden Cities Archway, gesê. February het verduidelik dat dinge soos ’n Wetenskap-TLC die leerders van Sir Lowry’s Pass ekstra stukrag gee om suksesvol te wees.



