AfriForum se Helderberg-tak het die afgelope maand twee belangrike inisiatiewe in die Kom met broodnodige skenkings ondersteun. Dié steun is in samewerking met verskeie plaaslike ondernemings aan die Somerset-Wes-nagskuiling en Somerset West Village Garden gelewer wat op hul beurt ’n belangrike rol speel in die versorging en opheffing van hawelose mense in die gemeenskap.
Nagenoeg 1 000 hawelose mense woon tans in die Helderberggebied en die skenkings wat die plaaslike tak gemaak het, sal Somerset West Night Shelter en Somerset West Village Garden sterk in die werk wat hulle doen.
Die Somerset-Wes-nagskuiling is ’n organisasie sonder winsbejag wat sedert 1988 verskeie basiese dienste aan hawelose volwassenes bied. AfriForum het vloerteëls, toiletware (insluitende seep en tandepasta) sowel as beddegoed aan dié skuiling geskenk vir die verbetering van hul fasiliteite en om aan verskeie mees basiese behoeftes van die skuiling en die individue wat daar bygestaan word, te bied. Somerset West Village Garden verskaf sedert 2015 vars produkte aan die plaaslike gemeenskap wat verbou word deur middel van ’n werks- en opleidingsprogram vir hawelose individue. AfriForum se Helderberg-tak het groentesaad, wat deur die saadmaatskappy Hygrotech geskenk is, aan dié gemeenskapstuinprojek oorhandig.
AfriForum se steun aan hierdie gemeenskapsinisiatiewe is moontlik gemaak deur skenkings van Hygrotech, Cathy en Jens Smith van Chalk & Cheese Paint and Décor en Sanet Robbins van Colgate. Volgens Ben Cronjé, voorsitter van AfriForum se Helderberg-tak, pak dié tak deur die loop van die jaar verskeie gemeenskapsprojekte aan. Hy moedig die publiek aan om by hierdie plaaslike tak aan te sluit en sodoende deel te word van ’n netwerk van gemeenskapslede en ondernemings wat werklik ’n verskil in die Helderberg-gemeenskap maak.
AfriForum het in September ook twee bome – ’n witstinkhout en ’n huilboerboom – by Pollock Park en die Youth Crescent Play Park in Gordonsbaai geplant. Hierdie gebaar verfraai nie net die natuurlike skoonheid van hierdie openbare ruimtes nie, maar dra ook by tot ’n gesonder omgewing vir huidige en toekomstige geslagte om te geniet.
Benewens die boomskenkings het die tak ’n week tevore ook clivias in Pollock Park geplant. Dit demonstreer AfriForum se voortdurende verbintenis tot omgewingsbewaring en gemeenskapsverryking.
Deur aktief aan hierdie inisiatiewe deel te neem, stel die organisasie ’n inspirerende voorbeeld vir ander gemeenskapsgroepe en individue om na te volg.
Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se boomplantmaand-projek in September wat samelopend met Nasionale Boomplantmaand gevier word. Hierdie projek beklemtoon die belangrikheid van omgewingsvolhoubaarheid en die deurslaggewende rol wat bome in die handhawing van ekologiese balans speel. Bome bied talle voordele, soos die verbetering van luggehalte, die vermindering van erosie en dit skep ’n habitat vir voëls, insekte en diere. Deur bome te plant, maak die organisasie ’n positiewe verskil in die bewaring en verbetering van die natuurlike omgewing.
“AfriForum se Helderberg-tak is besig om te groei en wil al hoe meer betrokke raak by gemeenskapsprojekte. Ons is trots op ons lede en dankbaar vir hul bereidwilligheid om hulself beskikbaar te stel om hul gemeenskap te dien,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by gemeenskapsprojekte betrokke te raak. Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en sluit by jou plaaslike AfriForum-tak aan: Besoek www.wordlid.co.za.



