’n Hoop rommel langs die grafte in die Rusthof-begraafplaas verlede Dinsdag (8 Oktober) met die koerant se besoek aan die toneel. Foto: Barend J Williams


Gemeenskapslede van Casablanca in Strand is erg onthuts oor die storting van vullis by die aangrensende Rusthof-begraafplaas.

Die jare lange probleem het vandeesweek opnuut die kop uitgesteek nadat ’n video wat die prentjie skets, wyd en syd op sosiale media versprei is. Die beeldmateriaal, wat verlede Maandag (7 Oktober) deur die inwoner Brent Louis opgeneem en op openbare platforms gedeel is, wys hoe rommel, insluitend babadoeke, verskeie huishoudelike produkte en afval, kledingstukke en skoene en sakkies vol gemors oor die begraafplaas gestrooi lê en ’n groot vullishoop gevorm het. Nog meer beeld die opname wielspore van vermeende swaarvoertuie uit, wat glo op die terrein was tydens vermeende skoonmaakoptredes wat deur die Stad Kaapstad voortgesit is en moontlik die oorsaak van grafskending was.

“Dit is die eerste grafte van ons ou [grootouers] en dis hoe dit lyk,” word Louis in die video gehoor.

Met DistriksPos & Helderberg Gazette se besoek aan die toneel verlede Dinsdag (8 Oktober) was ’n hoop vullis agter die mure van Petunia-rylaan sigbaar. Die rommelhoop was langs ’n graf en vullis het teen die mure gestrooi gelê. Die wielspore van swaarvoertuie was sigbaar tussen grafte wat ouer as 45 jaar is.

“Wat doen hulle daai kant van die begraafplaas? Dit is ou grafte daar,” het Louis in ’n onderhoud aan die koerant gesê.

Die gemeenskapsaktivis en voormalige hoërskoolhoof Godfrey Julies meen die Stad kon handearbeiders gebruik het in plaas van laaigrawe wat glo die skending van grafte veroorsaak net.

“Ons mense en woonbuurt word nagelaat; dit sou nie by ander begraafplase gebeur het nie,” het Julies, wie se ouers ook in die begraafplaas ter ruste gelê is, gesê.

By navraag het die Stad bevestig dat die verwydering van vullis langs die begraafplaas se grensmuur deel van algemene instandhouding gedoen is in ooreenstemming met die standaard- onderhoudsrooster. Die instandhouding het die sny van gras en snoei van bome, onkruidbeheer en verwydering van rommel ingesluit.

“Verskillende soorte afval word deur inwoners en agterplaas-inwoners oor die grensmuur in die begraafplaas gestort,” het die Stad genoem.

“Aangesien die aard van die afval as gevaarlik beskou word, was die gebruik van ’n laaigraaf nodig. Dit is wat die bande-merke op die terrein veroorsaak het.”

Volgens die Stad het werkers die laaigraaf gebruik om die afval op ’n hoop te stoot. Die Stad beweer ook die rommel was langs die pad opgehoop en nie langs enige grafte nie.

Die vullis is glo langs die pad geplaas omdat dit die verwydering van die rommel vergemaklik het en só werkers makliker toegang tot die rommel gegee het om dan na die munisipale stortingsterrein te verwyder.

Die Stad voer aan, ten spyte van mense se bewerings, dat geen grafte tydens die skoonmaakaksie beskadig is nie. “Vandalisme en diefstal by begraafplase reg deur die Stad is ’n werklikheid wat die departement op ’n deurlopende grondslag moet hanteer,” het die Stad by navraag gesê. Die Stad sê geen amptelike klagtes oor die inwoners se ontevredenheid is ontvang nie.

Die huidige instandhoudingswerk sou teen Vrydag 11 Oktober voltooi wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article