Dapper Duane Wagenaar (3) nadat hy kanker geklop het.Bron: Launa Cronje


Kwela Tours nooi Helderbergers om gholfballe te kom slaan ten bate van Duane Wagenaar. Dié dapper driejarige beoog om kanker vir die tweede keer te klop, maar hy het hulp nodig.

Die gholfdag vind Vrydag 25 Oktober by die Greenways-gholflandgoed plaas en spelers behoort om 09:00 gereed te wees om af te slaan.

Die dag bestaan uit 18 putjies, ’n ligte versnapering halfpad deur die baan en ’n ete ná die wedstryd.

Die dag is nie net vir gholfspelers om te geniet nie, maar die hele gemeenskap is welkom om te kom ondersteun, want daar sal ’n tombola en ’n putjie-kompetisie wees en vir diegene wat dapper genoeg is, ook ’n sproei- en shavathon.

Daar sal ook ’n veiling wees met wegbreekvakansies en sport-memorabilia vir die hoogste bieër.

Al die opbrengste wat ingesamel word, gaan vir Duane se stryd teen akute limfoblastiese leukemie by kinders.

Die klein vegtertjie is geknou nadat hy lukraak op tien maande oud begin siek word het. Sy ouers, Pieter (46) en René Wagenaar (37), kon eers drie dae ná Daune se eerste verjaardag ’n definitiewe antwoord by dokters kry. Dit was toe kanker by hom gediagnoseer is en hy dadelik intensiewe behandeling begin ontvang het.

“Hoewel hy dit nie in woorde kon uitdruk nie, kon ek sien dit was baie traumaties vir hom,” het sy ma, René, gesê.

Duane moes die volgende twee jaar diep delf. Hy het 799 dosisse chemo­terapie ontvang, 16 bloedoortappings, 12 lumbale punksies en uiteindelik sewe operasies ondergaan.

“Geen ouer wil sy kind in hierdie situasie sien nie. Dit is ontsettend moeilik en hartverskeurend om te aanskou,” het Pieter gesê.

Duane se dapperheid het op 1 Desember 2023 uiteindelik vrugte afgewerp toe hy kankervry verklaar is. Duane het sy ouers verras deur vinnig sy verlore kinderjare in te haal en het die vryheid om ’n kleuter te wees geniet.

Dit het gelyk asof alles goed gaan tot agt maande later toe sy ouers gesien het dat sy bene bleek word met blou merke sowel as klein kolletjies bloeding onder sy vel.

Bloedtoetse het ongelukkig op Dinsdag 27 Augustus vanjaar onthul dat Duane se kanker teruggekeer het. Omdat Duane nou ouer is, weet hy presies wat met hom gebeur.

“Hy verlang vreeslik na sy susters en maatjies by die skool, en sal eerder speel as om aan al die hospitaal-lyne verbind te wees,” het René gesê.

Buiten die emosionele onstuimigheid om hul seun in ’n hospitaalbed te sien, moet die Wagenaars hulle ook oor hul geldsake bekommer. Een van die ouers moet voltyds by Duane wees. Dit beperk die aantal ure wat hulle kan werk.

“Ons is ’n gewone gesin wat probeer kop bo water hou terwyl ons seuntjie om sy lewe veg,” het Pieter gesê.

Duane se behandeling sal vir minstens nog twee jaar voortduur. Dit is hoekom geld wat by die gholfdag ingesamel word, so broodnodig is. Dit sal Duane se ouers met sy mediese koste help.

Die driejarige se ouers voel egter solank Duane dapper is, sal hulle ook aanhou om moed bymekaar te skraap.. Indien jy die gholfdag wou bywoon of meer inligting wil hê om die gesin te help, kontak Launa Cronje by 083 628 7758.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article