’n Egpaar is op Dinsdag 22 Oktober deur twee verskillende diewe in Kusweg, Strand, van hul halssnoere beroof.
Die klaer het voor in sy motor gesit terwyl sy vrou op die agtersitplek was met die venster afgedraai om die son te geniet. Omstreeks 12:15 het ’n onbekende man die motor genader en die vrou se halssnoer van haar nek af geruk en weggehardloop.
Die klaer het agter die dief aan gejaag, maar kon hom nie vang nie. Dis toe ’n tweede onbekende man aanbied om te help. Terwyl die klaer aan die man verduidelik het wat gebeur het, het dié man die klaer se halssnoer van sy nek af gegryp en ook weggehardloop.
Volgens ’n lid van Strand Patrol het die tweede dief in Kusweg af in die rigting van Paardevlei gehardloop.
Gemeenskapslede en lede van Strand Patrol het die klaer gehelp om die dief agterna te sit en hom in Kusweg tussen Cookestraat en De Ruyterstraat vasgetrek.
Strand Patrol het die verdagte aangehou en die Strand-polisie gekontak, wat die verdagte in hegtenis geneem het.
Die verdagte was teen die koerant se druktyd nog in aanhouding by die Strand-polisiekantoor.



