Oktober was Downsindroom-bewustheidmaand en die kollig het op ’n unieke skool geskyn, wat op nasionale vlak daarna streef om kinders met dié genetiese toestand aan te moedig, te lei en vir ’n gelukkige, betekenisvolle en produktiewe lewe toe te rus.
Club 21 is ’n leersentrum sonder winsoogmerk en spesialiseer eksklusief in die onderrig en ontwikkeling van mense met Down-sindroom (Trisomie 21). Die leersentrum pronk met vyf takke landwyd, insluitend een op plaaslike bodem hier in die Helderbergkom. Die leersentrum is geleë op die terrein van die ACVV se Speelkasteel-kleuterskool in Jurgensstraat, Strand.
“Club 21 se visie is om ’n nuwe pad oop te maak vir kinders met Down-sindroom – in Suid-Afrika en uiteindelik in die res van die wêreld; ’n pad waarlangs kinders met dié toestand kan weet en ervaar dat hulle kosbaar is en begelei kan word om hul Godgegewe roeping uit te leef. Ons volg in samewerking met ouers, onderwysers, terapeute en deskundiges ’n holistiese benadering om te verseker hierdie kinders kan optimaal vrug dra en ’n voorspoedige toekoms hê,” het Amanda Fourie, die hoof van die leersentrums, gesê.
Club 21 is in 2012 deur Izelle Els, wie se seun met Down-sindroom gebore is, gestig nadat sy besef het ’n behoefte bestaan vir ’n spesifieke kurrikulum en omgewing vir mense met Down-sindroom sodat hulle geïntegreerd en selfstandig deel van die samelewing kan word. Sy het gevoel dat God haar lei om hierdie skool te begin, op Psalm 1:3 gegrond.
Els het die geloofsprong geneem en die skool met vier kinders in die ooste van Pretoria op die been gebring asook ’n bestuursraad wat die leersentrum se belange met sinvolle besluitneming op die hart dra. Meer as ’n dekade ná die skool se nederige begin, pronk dié nasionale opvoedkundige instelling met altesaam 123 kinders en jongmense tussen 18 maande en 39 jaar in al die leersentrums saam – 90 in Centurion, 14 in Polokwane, vier in Nelspruit, vyf in Paarl en 10 in die Helderberg.
Club 21 bied onderrig deur gekwalifiseerde onderwysers, wat by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro) geregistreer is, en assistentonderwysers.
Die akademiese kurrikulum is gegrond op konsepte van CAPS (die nasionale kurrikulum se assesseringsbeleidsverklaring) en D-CAPS (die gedifferensieerde nasionale kurrikulum) met fokus op ’n plan vir individuele leerders en ’n Christus-gesentreerde grondslag.
Klasse is beperk tot nie meer as agt kinders nie om persoonlike aandag te bevorder. Nog meer bied die skool omvattende assesserings om leerders se funksionering te bepaal en die dienste van ’n multidissiplinêre span terapeute wat optimale ontwikkeling verseker en monitor.
“Ons kinders is skitterende sterre. Hulle oorkom fisieke uitdagings met baie harde werk en selfs operasies, en ontwikkel met selfvertroue. Ons het ’n paar nasionale atlete wat al internasionaal gaan deelneem het in tafeltennis, atletiek en swem. Hulle kry ook geleenthede om in werksplekke opgeneem te word,” het Fourie meegedeel.
Club 21 bied ook ondersteuning aan leerders en hul gesinne deur ondersteuningsgroepe en ’n netwerk ouers wat saamwerk.
Verder bied terapeute weekliks opleiding aan personeel en rus ouers maandeliks toe met verskeie onderwerpe en relevante inligting om hulle te help in hul rol as ouers van kinders met Down-sindroom.
Maar, benewens dié sukses is die skool se grootste uitdaging die wêreld en gemeenskappe se begrip en aanvaarding van mense wat met Down-sindroom saamleef. Gekoppel aan die gebrek aan kennis, is daar ook geldsake.
“ ’n Organisasie sonder winsoogmerk met ’n duur gespesialiseerde onderwysmodel kos ongelukkig baie geld. Dit is ’n spesialiteitsveld wat vra vir opgeleide onderwysers met kennis en begrip. Daar is ook ’n groot behoefte vir die Pretoria-gebaseerde skool, en elke leersentrum, se eie gebou met opleidingsentrum, werkswinkels, sportterreine en selfs koshuise – waarvoor finansiering nodig is.”
Op ’n vraag hoe die gemeenskap kan help, het Fourie gesê: “Ondersteun ons deur groter bewustheid onder die algemene publiek te help skep. Raak finansieel betrokke – borg byvoorbeeld ’n kind met sy skoolgeld per jaar, help met toerusting en infrastruktuur. Die bydraes verander lewens van mense met Down-sindroom vir altyd. Ons is ’n openbare weldaadsorganisasie en sakeondernemings wat skenkings gee, kan ’n belastingvoordeel trek.”
Vir navrae of skenkings, reik gerus uit na Fourie via e-pos by principal@club21school.co.za. V Vir meer inligting, besoek Club 21 se webtuiste: www.club21school.org.



