Die tyd vir voornemende kunstenaars om vir die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram in 2025 in ag geneem te word, raak min. Belangstellendes het tot Dinsdag 31 Desember tyd om vir hierdie projek in te skryf.
Crescendo het die afgelope vyf dekades gehelp om die musikale loopbane van kunstenaars soos Rina Hugo, Riana Nel, Jak de Priester, Anna Davel, Anneli van Rooyen en Karin Hougaard aan die gang te kry. Die formaat het egter oor die jare verander. “In plaas van ’n talentkompetisie waar net een sanger as ’n wenner aangewys word, fokus die ATKV-Crescendo deesdae op die ontwikkeling van musikante, want talente is nie gegee om teen mekaar mee te ding nie, maar eerder om mekaar daardeur te verryk,” verduidelik die projekorganiseerder, Morné van Staden. “ ’n Aantal finaliste woon deur die jaar slypskole by om hulle op ’n loopbaan in die kunste voor te berei. Klem word gelê op nuutskeppings, aangesien kunstenaars liedjies moet inskryf wat uit hul eie pen kom.”
Die talent wat uit hierdie mentorskapprogram gekom het, het die ATKV genoop om ATKV-Crescendo-produksies te begin, wat nuwe produksies op die planke bring en finaliste help om hul liedjies, albums en musiekvideo’s vry te stel. Hierdie produkte kan op aanlyn platforms soos YouTube gesien word en liedjies word op radiostasies en stroomplatforms soos Apple Music, YouTube Music, Spotify, Amazon Music en Deezer vrygestel. “Op hierdie manier,” verduidelik Morné, “voorsien die ATKV-Crescendo ’n volgehoue vloei van nuwe stemme, kunstenaars en liedjies vir die Afrikaanse musiekbedryf.”
Hoewel die finaliste dit eens is dat die mentorskapprogram hul musikale loopbane ’n hupstoot gegee het, is die persoonlike groei wat die kunstenaars hierdie jaar ervaar het, nie te versmaai nie.
Lize-Marié Naudé verklap dat sy gedink het die ervaring gaan “cool” wees, maar “nie só cool nie”. “Selfs toe ek die e-pos kry dat ek na die slypskool deurgedring het, was dit reeds lewensveranderend. Die mense is egter next level. By hulle kon ek net myself wees. Dit was nie nodig om voor te gee nie. Dit was nie nodig om grimering aan te sit nie. Ek is aanvaar net soos ek is en dit is wat die mooi van musiek en musikante is – ons bring die beste in mekaar uit. Die ATKV-Crescendo-familie is nou die een familie wat ek nie gaan los nie.”
Meer selfvertroue is wat vir Lester Paulus, oftewel Crimson Hozai, uitstaan as hy die persoonlike groei wat hy hierdie jaar ervaar het, moet beskryf. “Ek het meer vertroue in myself, die soort musiek wat ek skryf en die soort kunstenaar wat ek is. Ek kan ook nou oor enige onderwerp skryf en rap. Ná dese verstaan ek dat my mening van dié van ander verskil en ek is oukei daarmee.”
Potensiële finaliste kan hul inskrywings digitaal instuur, maar daar is ook talentsoekers in verskillende dele van Namibië en Suid-Afrika wat oudisies in lewende lywe hou indien deelnemers dit verkies.
Die inskrywingsproses werk soos volg:. Besoek www.crescendo.org.za indien jy ’n digitale inskrywing wil instuur. Hier sal jy ook kontakbesonderhede kry van talentsoekers in Suid-Afrika en Namibië indien jy eerder ’n oudisie in lewende lywe wil doen. Die sluitingsdatum vir alle inskrywings is 31 Desember 2024.. Uit hierdie inskrywings word 25 finaliste na ’n omvattende mentorskapprogram tydens die Maart/April-skoolvakansie genooi.. Die doel van hierdie weeklange mentorskapprogram is om die finaliste toe te rus met genoegsame kennis en kundigheid om hul loopbane aan die gang te kry – hetsy hulle na die volgende ronde deurdring of nie.. Na afloop van die mentorskapprogram word tien finaliste uit die 25 gekies. Hierdie tien finaliste tree dan in ’n reeks produksies gedurende die jaar op.. Die finaliste kry tydens ’n finale slypskool ky loopbaankartering en een-tot-een-onderrig, want hierdie groep is die mense wat hul musiekloopbane met die ondersteuning van Crescendo begin.



