Strand-gesin ongedeerd ná traumatiese botsing op N2-snelweg

Die Dalvies-gesin het Sondag 8 Desember ’n botsing met ’n MyCiTi-bus op die N2 naby Gugulethu oorleef.


’n Gesin van die Strand het verbasend ongedeerd daarvan afgekom nadat hul bakkie op Sondag 8 Desember in ’n botsing teen ’n MyCiTi-bus op die N2 naby Gugulethu betrokke was.

Die botsing, wat drie voertuie ingesluit het, het tot padsluitings en beserings gelei.

Volgens raadslid Rob Quintas, ’n lid van die Stad Kaapstad se burgemeesterskomitee vir stedelike mobiliteit, was die MyCiTi-bus op pad van Mitchells Plein na die Burgersentrum toe die voertuig betrokke was by ’n botsing met ’n snelwegpatrollievoertuig, ‘n Toyota Corolla van Verkeersdienste, en ’n Toyota Hilux waarin die Dalvies-gesin gereis het.

“Die beampte in die snelwegpatrollievoertuig het ligte beserings opgedoen, en daar was geen insittendes in die Corolla ten tyde van die ongeluk nie,” het Quintas gesê.

Mansoor Dalvies (41), wat die Hilux bestuur het, het saam met sy vrou, Ayesha, en hul drie kinders gereis toe die ongeluk omstreeks 12:20 gebeur het. Hy beweer die bus het skielik uit die stadige baan geswenk en in hul voertuig vasgery, wat veroorsaak het dat hulle teen die versperring vasgery het.

“Ek het vir my vrou gesê om die bus se vreemde gedrag dop te hou, en binne ’n oogwink moes ek my seun gryp toe die botsing gebeur,” het Mansoor vertel.

Ayesha, wat harsingskudding opgedoen het, onthou min van die ongeluk, maar Mansoor beskryf hoe hy hul dogtertjie onderstebo tussen die sitplekke aangetref het.

“My gesin was my enigste bekommernis. Ek het dadelik uitgeklim om seker te maak hulle is veilig,” het hy gesê.

Die nooddienste het vinnig reageer en die gesin na ’n nabygeleë hospitaal vervoer. Hulle is later daardie aand ontslaan en het by familielede in Athlone oornag.

Die volgende dag het egter nuwe uitdagings gebring. Die gesin het met pyn en kneusplekke wakker geword. “Ek kon al my beserings voel,” het Ayesha gesê. Volgens hulle was hul jongste seun vir vier dae ná die ongeluk nog nie in staat om te kruip nie.

“Ek bestuur ’n vragmotor vir ’n lewe, maar nou is ek te bang om groot voertuie te bestuur,” het Mansoor gesê.

Ayesha werk tans van die huis af weens die trauma wat die ongeluk veroorsaak het.

Die bestuurder van die MyCiTi-bus is geskors en ’n ondersoek deur die voertuig-bedryfsmaatskappy en die Nyanga-polisie is aan die gang om die oorsaak van die botsing vas te stel.

“Die oorsaak van die botsing is nog nie bekend nie,” het Quintas bevestig.

Die botsing het ernstige ontwrigting veroorsaak, met die sluiting van albei bane van die N2 en Borcherds Quarry. Die paaie is eers om 14:57 heropen.

Ten spyte van hul traumatiese ervaring is die Dalvies-gesin dankbaar dat hulle oorleef het. “Ek glo vas ons is beskerm,” het Ayesha gesê.

“Toe ek die toestand van die bakkie sien, kon ek nie glo dat ons lewend daar uitgekom het nie.”

Die Dalvies-gesin se voertuig is ernstig beskadig in ’n botsing teen ’n MyCiTi-bus op die N2 naby Gugulethu.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article