Inwoners van die Pepperwood-landgoed is weer eens erg onthuts nadat die “soveelste” botsing tot erge skade aan die landgoed se grensmuur gelei het.
Die voorval skyn opnuut die kollig op ’n brandende kwessie vir ’n gemeenskap wat met elke voorval hul veiligheid op die spel plaas en moet opdok vir die herstelwerk.
Een inwoner, Kobus van Zyl, het sy woede teenoor owerhede se skynbare nalatigheid oor die probleem uitgespreek en gesê: “Owerhede het ons pleidooie om beskerming geïgnoreer. Weer eens het ’n voertuig in ons landgoed se muur vasgery, wat veroorsaak het dat dele daarvan binne die landgoed inmekaar geval het. Hierdie botsing het op presies dieselfde plek as vorige voorvalle plaasgevind. Ons het al gevra dat die spoedgrens verlaag moet word, en steeds weier hulle om ’n versperringsmuur op te rig. Die bestuurder het beweer dat hy soos gewoonlik teen 80 km/h gery het toe die voertuig skielik gegly en in die sloot teen die muur beland het. Ons kan nie langer in vrees leef of die finansiële las van konstante muurherstelwerk dra sonder owerhede se ondersteuning nie. Die botsings gebeur herhaaldelik, ondanks ons aanhoudende versoeke vir aksie.”
DistriksPos & Helderberg Gazette het vroeër vanjaar oor die kwessie berig toe ’n ongeluk by die landgoed net buite Heldervue langs die R44 die aantal voorvalle op die berugte draai die syfer op 10 te staan gebring het (“Collision raises old ‘barrier’ question,” 14 Februarie).
Die Pepperwood-landgoed het die afgelope paar jaar half sinoniem geword met ongelukke, terwyl die landgoed se buitemure die meeste van die ongelukke gedra het, met voertuie wat van die pad af gery en daarin vasgery het.
Volgens sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, is ’n ongeluksverslag saamgestel ná die botsing wat omstreeks 16:00 verlede Vrydag (6 Desember) gebeur het.
Die motorbestuurder, James Motate, sê dat hy en sy twee kinders (15 en 12) in sy Ford Focus op die R44 in die rigting van Stellenbosch gery het toe die voertuig by die berugte draai in die pad, wat weens ligte reën nat was, gegly en gerol het.
“Die kar het twee keer gerol voordat dit op sy dak in die sloot teen die landgoed se muur beland het,” sê dié 45-jarige pa van twee.
“Ek en my seun is ongedeerd en my dogter is met rugbeserings in die hospitaal opgeneem. Ons is opnuut dankbaar vir die genade en die landgoed-eienaar se ondersteuning op die toneel.”
Jandré Bakker, die provinsiale departement van infrastruktuur se woordvoerder, sê die padontwerp voldoen aan standaarde en geen bykomende sperrelings is nodig nie, aangesien die botsings nie as gevolg van die pad se ontwerp beskou word nie.
Die departement sal nie verdere aksie neem in verband met die ongelukke nie en kan volgens hom nie padgebruikers se gedrag uitdaag nie.
Bakker verduidelik ook dat sperrelings bedoel is om die pad en padgebruikers te beskerm – nie om eiendom langs die pad te beskerm nie. Daarom word geen optrede beplan nie.
In die huidige fiskale omstandighede oorweeg die departement dit nie om by te dra tot ander versperrings nie. Enige voorstel vir verbeterings deur private eienaars moet deur die eienaars gedra word en hulle mag nie die padreserwe sonder goedkeuring gebruik nie.
Op ’n vraag oor wat die langtermynplanne insluit om soortgelyke voorvalle by die landgoed te voorkom, sê Bakker geen spesifieke planne met spesifieke verwysing na die voorval by die Pepperwood-landgoed bestaan nie.
“Die departement kan noem dat ’n langer termyn en groter padveiligheidsverbeteringsprojek vir die R44 beplan word en tans beplan is om in 2026 te begin – onderhewig aan beskikbare finansiering,” sê hy.
Bakker sê ook die departement sal nie enige finansiële hulp of vergoeding aan die inwoners vir herhaalde herstelkoste weens die ongelukke verskaf nie, want “die skade is nie deur die departement veroorsaak nie en die pad voldoen aan die vereiste standaarde”.
Hy sê die inwoners kan dit oorweeg om regsaksiein te stel teen diegene wat hul infrastruktuur beskadig het.



