Namate Strand KwikSpar hierdie jaar sy 25ste bestaansjaar vier, wil die onderneming graag twee dinge doen – sy klante opreg bedank vir hul jarelange ondersteuning én hulde bring aan die man wat die hartklop agter hierdie onderneming was – Manna Doyle, eggenoot, pa en oupa.
Manna is op 8 November 1945 in Blanco, George, gebore. Die lewe het hom op die jong ouderdom van 15 voor ‘n moeilike keuse geplaas, maar hy het die regte een sonder huiwering gemaak. Hy het die skool noodgedwonge verlaat om vir sy moeder te sorg, en so het hy sy eie pad begin loop.
Dié pad het hom na die see gelei. As dekhand op ‘n vistreiler het hy sy ambisie en werksaamheid ingespan om homself deur die geledere te werk, totdat hy uiteindelik die stuur as kaptein oorgeneem het.
Hy is vir baie jare as een van die beste seekapteins nog in Mosselbaai beskou – ‘n man wie se naam op die water gerespekteer is.
Toe mediese omstandighede hom noodsaak om die visbedryf te verlaat, het Manna, soos altyd, nie stilgesit nie.
Hy en sy vrou, Anita, het opnuut begin bou, met ondernemings wat oor die jare van kafee tot slaghuis, bakkery, Spur en uiteindelik KwikSpar gestrek het. Elkeen was ‘n nuwe hoofstuk; elkeen gedryf deur dieselfde vasberadenheid.
Kliënte vertel vandag nog staaltjies van hom – van sy hartlikheid, sy humor en die manier waarop hy mense tuis laat voel het.
Dít is sy nalatenskap. As familie sê hulle dankie aan Manna. Hy was nie net hul kaptein in sy sakeondernemings nie, maar ook hul kaptein in die lewe.




