Lea Coetzee, Sir Lowry's Pass-dramaturg en stigter van It's All About Drama, kyk in die kamera.
Lea Coetzee, stigter van die Sir Lowry’s Pass-dramagroep “It’s All About Drama”, gee nou ander ‘n kans om hul stories te vertel. Foto: Barend Williams

Draaiboek só verfilm: Lea Coetzee laat gemeenskap stories vertel

Lea Coetzee, Sir Lowry's Pass-dramaturg en stigter van It's All About Drama, kyk in die kamera.
Lea Coetzee, stigter van die Sir Lowry’s Pass-dramagroep “It’s All About Drama”, gee nou ander ‘n kans om hul stories te vertel. Foto: Barend Williams

Sir Lowry’s Pass se eie dramaturg en vrystyl-filmmaker, Lea Coetzee, gee die verhoog oor – dié keer om ander se stories te vertel.

Volgende week Saterdag (13 Junie) sal sy en die filmspan van Ingwe Multi Media Productions begin om een van Coetzee se oorspronklike Vat My Storie Kop Toe-draaiboeke te verfilm, waar regte jongmense stories deel om ander te inspireer terwyl dit as ‘n motiveringsprogram opgeneem word.

Ingwe Multi Media se Johan Rothmann en Gavin Abegglen het hul kragte saamgesnoer om Coetzee te ondersteun.

Rothmann is ‘n ervare videograaf, terwyl Abegglen, gebaseer in die Helderberg, spesialiseer in instruksionele, opvoedkundige en korporatiewe videovervaardiging. Saam bring hulle jare se tegniese en kreatiewe kundigheid na die projek.

Coetzee skryf haar eie stories sedert die ouderdom van 19 en het 18 jaar daaraan bestee om ware gemeenskapspyn in kragtige drama om te skep (“Dramaturg droom groot“, ­DistriksPos & Helderberg Gazette, 27 September 2023).

Die nuwe stuk kom nadat sy aan ‘n kompetisie deelgeneem het waar sy prysgeld gewen het vir haar boek, Ek, Lea – ‘n werk wat diep in haar eie lewe gewortel is.

“Ek het gesukkel met dié skryf, want dit het gegaan oor my tienerswangerskap,” vertel Coetzee.

Nou wil sy ander dieselfde kans gee. “Ek wil net ander ‘n kans gee om hul eie stories te deel, soos ek die kans ontvang het,” sê sy.

Coetzee is ook die stigter van die Sir Lowry’s Pass-dramagroep “It’s All About Drama”, waarmee sy Hoe Lyk Sir Lowry’s Pass? en die Tik Verwoes Lewens-reeks geskep het, waarvan deel twee verlede jaar geskiet is (“Dramaturg en kie keer terug,” 9 Oktober 2024).

Tien lede van die Tik Verwoes Huisgesin-dramaspan poseer saam, met stigter Lea Coetzee voor in die middel.
Die groep wat deel twee van die drama van Tik Verwoes Huisgesin gaan lewe gee: Agter van links: Cherise MacDonald, Ethan Steyn, Aneesha Booysen, Chantell Arnolds, Kirsty-Lee Opperman en Jacqueline Vermeulen. (Voor): Viola Mieta, Juniqua Maarman, Lea Coetzee (stigter) en Devandré Booyse. Foto: Barend J Williams

Met hierdie flieks – soos met haar ander werk – gebruik sy regte gemeenskapslede, insluitend kinders wat MIV-positief is, voormalige dwelmverslaafdes en sukkelende jongmense, maar plaas hulle in teenoorgestelde rolle om hulle ‘n nuwe perspektief op hul eie lewe te gee.

Die span het reeds liggingsverkenning gedoen en verkies om dit weer plaaslik te verfilm.

Dit kom alles egter teen ‘n prys.

Al die flieks word uit Coetzee se eie sak gefinansier en die prysgeld wat sy ontvang het, is nie genoeg om ‘n dramagroep van 30 te onderhou nie.

Hulle benodig klere vir kostuums, rekwisiete en grimering.

Skakel Coetzee by 084 919 7973 vir meer inligting oor hoe om te skenk of te help.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article