‘n Inbraak by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool Maandag (18 Mei) het leerders se opvoeding weer eens in gedrang gebring.
“Leerders se onderrig word deur die voortdurende inbrake benadeel,” sê Delphine May, die skoolhoof.
AO Suzan Jantjies, ‘n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, sê die inbraak het omstreeks 06:00 plaasgevind, waarna een van die skoolopsigters die personeel in kennis gestel het.
“Verskeie items is gesteel en beskadig. Die polisie ondersoek ‘n saak van inbraak,” sê Jantjies.

Die oortreders het die skoolterrein van agter betree, waarna hulle toegang tot die voorafvervaardigde klaskamers verkry het voordat hulle ingebreek het.
André Hindley, die skool se veiligheidsbeampte en departementshoof, sê die herhaalde inbrake word moontlik gemaak deur ernstige sekuriteitsgapings. Die skool het geen beamptes op die perseel nie en ander sekuriteitsmaatreëls was onsuksesvol.
“Die kameras is buite werking weens die kragonderbrekings in Sir Lowry’s Pass,” sê Hindley.
Hy skat ongeveer R70 000 se skade is aangerig en bevestig twee graad 2-klaskamers is die ergste getref.
“[Die inbrekers] het toerusting verwyder, mure gebreek en lugversorgers uitgehaal om hul behoeftes te bevredig,” verklaar hy. “Wat die frustrerendste is, is dat hulle heel waarskynlik ook voormalige leerders is.”
Een van die onderwysers wie se klaskamer geraak is, voel geskend en onveilig.”Ek is die afgelope 10 jaar ‘n onderwyser by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool en ons word minstens drie keer per jaar met hierdie probleem gekonfronteer,” sê Liezl Dodo.

Die personeel kon die leerders teen die toneel beskerm, maar kon nie die ontwrigting wat die misdaad veroorsaak het, voorkom nie. Verskeie graad 2-klasse moes na die skoolsaal verskuif word terwyl hulle vir belangrike toetse voorberei.
“Ons kon hulle nie huis toe stuur nie; die kurrikulum moet voortgaan,” sê Hindley.
Hindley sê die skool moet weer eens die stukke optel terwyl hy daarna streef om die beste opvoeding moontlik vir sy leerders te bied.
Enigiemand met inligting oor die saak kan die Somerset-Wes-speurtak bedags by 021 850 1302 skakel.





You must be logged in to post a comment.