‘n Gestremde man van Strand se rolstoel is op pad kerk toe beskadig nadat ‘n taxi in hom vasgery het. Nou sit hy vasgevang in sy huis nadat die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand geweier het om sy rolstoel te vervang.
Rhyno Vollmer (67) was Sondag 1 Februarie in sy rolstoel na die St. Andrew se Anglikaanse kerk in Vyfdestraat, Rusthof, onderweg. ‘n Taxi, wat in die teenoorgestelde rigting gestaan het, het skielik agteruit gery en teen hom en sy rolstoel gebots.
“Ek het hom gehoor, maar weens my gestremdheid kon ek nie my nek draai nie,” sê die plaaslike pensioentrekker.
Vollmer het sy linkerarm in die botsing beseer – dit nadat hy reeds vantevore dié arm in 1996 in ‘n motorfietsongeluk beseer het. Hy beweer sy rolstoel se linkerwiel is ook so erg beskadig dat sy voet nou sleep as hy dit probeer gebruik.
Vollmer is die volgende dag na die Gustrouw-gemeenskapsdagkliniek toe vir mediese hulp met sy beseerde arm en om ‘n nuwe rolstoel aan te vra. Beide versoeke is geweier. Hy beweer kliniekbeamptes het hom meegedeel omdat hy sy rolstoel verlede September ontvang het, moet hy tot September hierdie jaar wag vir ‘n nuwe een. Toe hy sy armpyn by die dokter aangemeld het, was die reaksie kru: “Die dokter het vir my gesê ek moet ophou kla.”
Gevolglik is hy ook nie na die plaaslike hospitaal oorgeplaas nie.
Die ervaring het Vollmer se lewe drasties verander. Hy kan nou net met die hulp van Theresa Stevens, wat saam met hom woon, tussen sy slaapkamer en rusbank in die sitkamer beweeg.
Abulele Dyasi, ‘n woordvoerder vir die departement van gesondheid en welstand, ontken egter Vollmer se bewerings. Sy sê sy rolstoel is steeds bruikbaar.
“ ’n Arbeidsterapeut het die rolstoel ondersoek en bevind hoewel dit ‘n slag gekry het, dit steeds veilig is,” sê Dyasi.
Sy voer aan Vollmer kan loop en is nie ten volle van ‘n rolstoel afhanklik nie. “Ons verstaan skade aan toerusting kan ontstellend wees en waar die skade buite ‘n pasiënt se beheer is, kan uitsonderings ná ‘n kliniese ontleding oorweeg word.”
Dyasi sê alternatiewe mobiliteitshulpmiddels, soos krukke, kan voorsien word indien dit klinies geskik is.
Wat die geweierde hospitaaloorplasing betref, sê sy oorplasings word slegs toegelaat gegrond op mediese behoefte, en Vollmer het sy medikasie ontvang.
“Ons bly daartoe verbind om Vollmer te ondersteun. Hy word voorkeur gegee wanneer hy die kliniek besoek.”
Vollmer stem nie saam nie.”Hulle lieg!”
Hy voel as die kliniek hom nie gaan help nie, sal hy sy gemeenskap nader vir skenkings om ‘n nuwe rolstoel te koop.
Indien jy jou hart aan Vollmer wil oopmaak of meer inligting benodig, bel Stevens by 072 860 3711.




