Die Stellenbosch Woordfees het inskrywings vir sy gewilde kortverhaalkompetisie, met ‘n hoofprys van R30 000 vir die wenverhaal, geopen.

Die kompetisie, wat nou in sy 11de jaar is, het volgens Saartjie Botha, die direkteur van die Stellenbosch Woordfees, ‘n literêre instelling geword.

“Dit dien as ‘n soort jaarboek waarmee Afrikaanse skrywers iets van die spesifieke tydsgees met elke oes kortverhale weerspieël,” sê sy.

Die bundel pronk met ‘n indrukwekkende rekord. Altesaam 2 829 verhale is die afgelope dekade beoordeel, waarvan 239 die bundel gehaal het. Vorige wenners sluit die bekroonde Lynthia Julius in, terwyl skrywers soos Michèle Meyer, Clari Niemand en Hendie Grobbelaar se wenverhale tot Silwerskermfees-kortflieks verwerk is. Tarina Jordaan het die 2025-kompetisie gewen.

“Aangesien ons 10de bundel in Oktober gepubliseer is, begin ons as ‘t ware ‘n nuwe siklus,” verduidelik Suzette Myburgh, die sameroeper van die keurpaneel. “Ons het die bundel met inskrywings van hoogstaande gehalte van krag tot krag sien gaan. Ons wil alle skrywers opnuut aanmoedig om jul verhale met ons te deel.”

Die skrywer van die wenverhaal wen R30 000, terwyl die res van die skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem word, elkeen R5 000 kry. Skrywers wie se verhale gekies word, sal in Julie bekendgemaak word, terwyl die wenverhaal tydens die 26ste Stellenbosch Woordfees in Oktober aangekondig sal word.

Die kompetisie is oop vir alle skrywers, maar prysgeld word slegs in randwaarde betaal en bundeleksemplare word net binnelands gestuur.

Skrywers kan oor enige onderwerp skryf. Die bundel sal wel die jaar se feestema as titel hê, maar dít sal eers later vanjaar bekendgemaak word.

Slegs Afrikaanse kortverhale word aanvaar, en net een inskrywing per skrywer word toegelaat. Verhale moet tussen 1 500 en 3 000 woorde lank wees en moet oorspronklik en nuutgeskryf wees.

Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer se naam en kontakbesonderhede moet op die aanlyn inskrywingsvorm ingevul word, maar nie by die verhaal ingesluit word nie. Slegs die titel moet duidelik sigbaar boaan die verhaal verskyn. Verhale moet in MS Word-formaat met genommerde bladsye aangebied word en geen PDF’s sal aanvaar word nie. As enige blatante verwysing na die skrywer in die teks verskyn, sal dit summier gediskwalifiseer word.

Nie meer nie as 25 verhale sal vir die bundel gekies word.

Kopiereg berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die Stellenbosch Woordfees.

Verhale sal voor publikasie geredigeer word, met goedkeuring deur die skrywer.

Inskrywings sluit op 1 April om 17:00 en laat inskrywings sal nie aanvaar word nie. Inskrywings word vanaf Maandag 2 Februarie met ontvangs erken.

Navrae kan per e-pos aan bemarking@woordfees.co.za gerig word, maar slegs skriftelike navrae sal beantwoord word.

 Nog inligting en die aanlyn inskrywingsvorm is beskikbaar by www.woordfees.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article