‘n Pa van Strand is verpletter nadat sy oudste seun een van drie slagoffers geword het in ‘n skietvoorval wat van ‘n dubbele in ‘n driedubbele moord ontwikkel het.
“Dit is seer; ek het nooit verwag dat ons op hierdie plek sal kom waar ek hom daar moet laat lê nie,” sê Gawie Adams.

Luidens ‘n verslag van die Strand-polisie is Curtly Adams (25) en Siyabonga Jaftha (33) doodgeskiet en Ashwill Adams (28), voorheen as Jeff geïdentifiseer, Saterdag 29 November by ‘n woning in Serinastraat, Sercorpark, ernstig gewond (“Skietery eis 2“, DistriksPos & Helderberg Gazette, 3 Desember 2025).
Die verslag het verder gemeld ‘n beampte wat op patrollie was, het op die voorval gereageer. Daar het die beampte die informele woning agter die huis om 03:18 ingegaan, waar hy die drie met koeëlwonde aangetref het.
Die beampte is deur gemeenskapslede meegedeel dat die slagoffers deur drie onbekende mans geskiet is. Jaftha en Curtly het op die toneel aan hul wonde beswyk.
Kol. Jacqui Johnson, die Strand-stasiebevelvoerder, het bevestig die saak is verander na ‘n driedubbele moord nadat Ashwill op Maandag 5 Desember aan sy wonde beswyk het. Sy het dit duidelik gestel anders as wat voorheen berig is, is niemand in hegtenis geneem nie, maar drie mense is wel ondervra.
“Voordat hy (Ashwill) oorlede is, kon hy nie die verdagtes identifiseer nie aangesien hul gesigte bedek was,” sê Johnson.
Die motief vir die skietery is nog onbekend en die polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap vir inligting oor die saak.
Vir die bedroefde Gawie voel dit steeds asof die tragedie gister gebeur het. Hy vertel van die laaste keer wat hy sy seun gesien het.
Hy het net ná 18:00 op Vrydag 28 November by die huis in Petunialaan aangekom en hy en sy seun het nog grappies gemaak voordat Curtly na sy ma in Annikastraat vertrek het. Min het hy geweet dat dit hul laaste gesprek sou wees.
“Mense sê wanneer so iets gebeur, kan jy dit aanvoel, maar ons is op ‘n goeie voet uitmekaar,” sê Gawie.
Die afskeid is die perfekte voorbeeld van sy seun, wat hy beskryf as ‘n lieflike en stil mens wat nie ‘n vlieg sou leed aan doen nie.
“Hy het daarvan gehou om mense te help en op sy foon musiek te maak,” sê die pa.
Hoewel sy seun ná hy matriek aan die Hoërskool Gordon in Somerset-Wes voltooi het, net aan grafstene gewerk en soms in tuine gewerk het, het hy groot drome gehad.
Curtly wou by die weermag aansluit en in die voetstappe van sy pa volg.
“Maar sy uiteindelike doel was om te studeer om ‘n maatskaplike werker te word om ander te help,” sê Gawie.
Hy het verduidelik dat die rede vir hierdie droom Curtly se kinderjare was, wat daartoe gelei het dat hy oor die jare verander het.
“Curtly het baie emosionele dinge deurgemaak en hy was nie meer homself nadat hy met dagga begin eksperimenteer het nie,” sê Gawie.
Die gebroke pa het dit verder duidelik gemaak hoewel sy seun deur ‘n moeilike tydperk in sy lewe gegaan het, was hy nie by bendes betrokke nie, maar hy was dikwels die teiken van bende-aanvalle.
Hy beweer dat Curtly die slagoffer van baie rooftogte was.
“Hy het net alles aanvaar en ek as ouer moes alles aanvaar. Maar waar staan ek nou?” vra Gawie. “Omdat ons alles aanvaar het, is sy lewe geëis.”
Volgens Gawie se weergawe van gebeure het sy seun voor die hek by sy ma se huis in Annikastraat gesit toe ‘n onbekende persoon hom gevra het om saam met hulle huis toe te loop en iets te koop.
Hy beweer dat sy seun saam met die persoon by die huis van Jaftha beland het en dat dit die eerste keer was dat Curtly by daardie huis was en dat hy nie vriende met Jaftha of Ashwill was nie.
Hy voeg by dat dit toe was dat die verdagtes opgedaag het en op Curtly, Ashwill en Jaftha losgebrand het.
“Die een het vir die ander gesê: ‘Hey my bru, hierdie n*** het ons gesigte gesien, so ons moet hom maar nou skiet.’ Toe skiet hulle hom,” verduidelik hy.
Daarna het Curtly se ma vir Gawie by sy huis in Petunialaan kom inlig. “Sy het ingekom en vir my gesê: ‘Gawie, ons seun is geskiet.’ ”
Die ouers het hulle na die toneel gejaag, waar hulle hul seun met koeëlwonde sien lê.
“Toe ek sy pols voel, toe kyk hy na my, maar toe word hy koud,” sê Gawie met trane in sy oë.
Ná die hartseer oor die verlies van sy seun beweer Gawie dat hy geen ondersteuning van die Strand-polisie ontvang het nie.
“Hy is om 23:00 geskiet. Van daardie tyd tot 03:00 in die oggend was hulle nog nie daar nie,” sê Gawie.
Hy beweer verder dat die polisie nie met die familie oor die ondersoek of die hofsaak gekommunikeer het nie en dat hulle ingelig is dat die polisie se hande afgekap is, omdat daar geen getuies is nie.
“Om eerlik te wees – die polisiediens is swak,” sê Gawie. “My jongste seun het gevra hoekom ons nog vir die polisie moet wag – sy broer is immers al dood!”
Johnson het op Gawie se bewerings gereageer en verwys na die misdaadadministrasiestelsel (CAS), wat aandui dat ‘n klagte van skietery om 03:26 ontvang is en dat beamptes om 03:35 op die tonneel arriveer het.
“Luidens die dossier was die ondersoekbeampte in kontak met die familie van die oorledene (Curtly), soos ‘n inskrywing toon, en hulle is na die lykshuis geneem,” sê Johnson.
Sy het egter die geleentheid om kommentaar te lewer op Gawie se bewering dat ‘n beampte die familie ingelig het dat die polisie magteloos sonder getuies is, van die handgewys.

Curtly is op Saterdag 13 Desember ter ruste gelê en sy pa voel dat die groot aantal roubeklaers en vriendelike woorde wat hy ontvang het, ‘n bewys van sy seun se karakter is.
Sy hart gaan ook uit na die ander ouers wat hul kinders verloor het. Hy is standvastig in sy soeke na geregtigheid vir sy seun en die ander slagoffers.
“Al wat ons wil hê, is dat die polisie vir ons afsluiting gee,” sê die pa.





You must be logged in to post a comment.