Skoolgemeenskap wat Altena se mure geverf het om diversiteit te vier
Leerders, ouers en vrywilligers wat die mure by Altena Primêre Skool in Strand omskep het om die skool se diversiteit te vier.

’n Strand-inwoner het die afgelope Saterdag (18 Oktober) kwaste en ’n hele skoolgemeenskap saamgesnoer om ’n vars laag diversiteit te verf oor mure wat kinders se eie kulture en ervarings vier.

Skoolgemeenskap wat Altena se mure geverf het om diversiteit te vier
Leerders, ouers en vrywilligers wat die mure by Altena Primêre Skool in Strand omskep het om die skool se diversiteit te vier.

Mieke Hall (36) is ’n doktorale student aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy navorsing oor inklusiewe gehalte-onderwys in Suid-Afrika doen. Sy ondersoek hoe kuns en ontwerp dit in laerskoolklaskamers kan bevorder.

“Met ander woorde, hoe visuele en ruimtelike elemente in klaskamers die kinders deel van die ruimte laat voel,” verduidelik sy.

Mieke Hall verf mure by Altena Primêre Skool gange.
Mieke Hall bring kleur na die gange van Altena Primêre Skool.

Hall het as deel van haar navorsing by Altena Primêre Skool aangeklop, waar sy ontdek het dat bestaande muurkuns meestal karakters uit voorgeskrewe handboeke, wat uit Engeland en Europa ingevoer is, uitbeeld.

“[Dit is] uitbeeldings wat nie noodwendig by die leerders se eie kulturele of sosiale werklikheid byklank vind nie,” sê sy.

Dit het die idee laat ontstaan om die muurkuns saam met die kinders te herskep – gegrond op hul stories, ervarings en identiteit.

As lektor in die Universiteit Stellenbosch se afdeling visuele kommunikasie-ontwerp het Hall kunsklasse aangebied waar kinders tekeninge oor skoolwaardes en -temas gemaak het.

“Die kinders was ongelooflik opgewonde toe hulle hoor hul tekeninge sou muurskilderye vir hul speelterrein word,” sê sy.

Hall het die tekeninge versamel en dié gekies wat as muurskilderye kon werk, met ’n kleurvolle palet Suid-Afrikaanse elemente soos proteas, strelitzias en kosmosbloeisel ingesluit.

Kinder se tekening van 'n meisie wat fiets ry, geverf op skooltmuur
Hierdie tekening van ‘n meisie wat fiets ry het van ‘n leerder se bladsy na die skooltmuur gespruit.

Op die verfdag het leerders van die skool, hul ouers en plaaslike vrywilligers saamgekom om mure by die skool te verf en die gemeenskap se ware kleure te wys. Die verf is deur die Strand-tak van Prominent Paints geskenk .

“Al was dit soms chaoties met ’n klomp verf en kinders oral, het ’n gevoel van trots, deelname en gemeenskap geheers,” sê Hall oor die atmosfeer.

Vir my was dit besonders om te sien hoe kuns mense saambring en leerders se verhouding met hul skoolruimte verander

Tekening van meisie wat fiets ry, geverf op Altena se muur
Die meisie op die fiets sal nou vir ewig oor Altena se mure “ry”.

Sy voeg by dat haar projek ’n nuwe skakering gee aan hoe inklusiwiteit nie net oor die skoolkurrikulum gaan nie, maar tot die fisieke ruimte en omgewing strek.

Die mure van Altena vertoon nou ’n kleurryke prentjie van die diversiteit van die leerders. Dit wys wat ’n kragtige instrument kuns en ontwerp vir sosiale verandering binne skole kan wees.

Kleurvolle tekening op muur wat diverse karakters en kulture uitbeeld
‘n Bewys van die diversiteit wat Hall se projek kenmerk.

“Ek hoop die kinders sal elke dag wanneer hulle in die ruimte speel, vreugde vind wanneer hulle hulself op die mure sien en dit hulle trots sal laat voel op wie en wat hulle is,”

sê Hall.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article