Twee stiefpa’s is deur die Somerset- Wes-polisie van die verkragting van hul onderskeie stiefdogters aangekla in klagtes wat verlede Maandag (8  September) aangemeld is.

Sersant Suzan Jantjies, ‘n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, het bevestig dat ‘n 42-jarige man van Garden Village hom op Woensdag 10 September aan die owerhede oorgegee het. Dít nadat daar beweer is dat hy sy elfjarige stiefdogter oor ‘n tydperk van twee jaar verkrag het.

In ‘n afsonderlike voorval is ‘n 34-jarige man van Sir Lowry’s Pass op 8 September vir die vermeende verkragting van sy 13-jarige stiefdogter in hegtenis geneem.

“Die tienerslagoffer beweer dat die misdaad meer as een keer gepleeg is,” sê Jantjies.

Daar word ook beweer dat ‘n naasbestande van die slagoffer bewus was van die beweerde misdaad, maar versuim het om dit aan te meld. Die voorval is egter glo deur ‘n bekommerde gemeenskapslid gerapporteer.

Albei sake is aan die Khayelitsha-eenheid vir gesinsgeweld, seksuele misdrwye en kinderbesekerming vir verdere ondersoek.

IN DIE HOF

Terwyl die ondersoeke voortduur, het albei verdagtes reeds in die hof verskyn.

Die 34-jarige verdagte het verlede Donderdag (11 September) vlugtig in die Somerset-Wes-landdroshof op aanklagte van verkragting verskyn.

Die saak tot môre (Donderdag 18 September) uitgestel.

Die 42-jarige verdagte homself het Vrydag 12 September in die beskuldigdebank gevind. Hy word verwag om weer Vrydag 19 September om formele borgtogaansoek in die hof te verskyn.

‘n Plaaslike gemeenskapsorganisasie het in die lig van die voorvalle gemobiliseer. Die Vroue in Aksie-beweging in Strand, wat op die regte van vroue en kinders asook die beskerming van slagoffers van seksuele en huishoudelike geweld fokus, het die 34-jarige verdagte se hofverskyning bygewoon ter ondersteuning van die 13-jarige slagoffer.

“Ons staan 100% agter die slagoffer,” sê Vernita van Wyk, ‘n lid van die beweging.

“Die feit dat dit iemand so na aan die slagoffer is, is skokkend! As ouers is ons veronderstel om kinders teen gevare te beskerm.”

Ada Buys, bestuurder van die Helderberg-sentrum vir kinderslagoffers van seksuele mishandeling (Patch), meen hierdie sake toon ‘n kommerwekende patroon en kom al hoe meer in die Helderberg voor.

“Dis so hartseer dat kinders nie eens in hul eie huise veilig is nie,” sê Buys.

“Naas vreemdelinge is pa’s, ma’s se kêrels, stiefpa’s en ooms – mans met ‘n familieverhouding met die kind – die tweede grootste groep gevalle van min- derjarige verkragting wat ons ontvang.”

Sy voeg by dat oortreders van seksuele misdrywe teenoor kinders gewoonlik ‘n verhouding gebaseer op medeafhanklikheid met vroue bou, waar hulle nie net die slagoffer manipuleer nie, maar ook die familie en die hele gemeenskap.

“Hierdie mans is baie sjarmant en

gebruik dit om tussen ouers en hul kinders te kom,” sê Buys. “Weens dié tendens sien ons in 90% van gevalle dat die ma nie die kinderslagoffer glo wanneer daar uitgepraat word oor die misdrywe nie.”

Buys het verder ‘n beroep op vroue gedoen om hul kinders se veiligheid te prioritiseer, veral wanneer hulle ‘n nuwe liefdesverhouding betree. “Ek blameer nie die ma’s vir wat gebeur het nie, maar ek wil hulle net teen moontlike misleiding en gevare waarsku.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article