Die ma van die tienerseun wat van die moord op Deveney Nel aangekla is, was Vrydag (8 Augustus) in die Grabouw-landdroshof waar sy aansoek gedoen het om ‘n beskermingsbevel teen twee vroueregte-aktiviste, die bekende joernalis en skrywer Julian Jansen en ‘n lid van die publiek.
Jansen, wie se boek getiteld Die moord op Deveney Nel onlangs gepubliseer is, het bevestig dat hy by die hof was om die storie van die beskermingsbevel teen die twee aktiviste, Tanya Bippert en Lucinda Evans van One Billion Rising, te dek toe hy tot sy groot skok hoor dat die moordbeskuldigde seun se ma ook aansoek gedoen het om ‘n beskermingsbevel teen hom te verkry.
Jansen wou nie oor die aansoek uitwei nie aangesien die saak nog voor die hof dien. DistriksPos & Helderberg Gazette het egter uitgevind dat die beskermingsbevel ten doel het om Jansen te muilband deur hom te verbied om oor die saak te berig.
In die aansoek voer die 18-jarige se ma aan dat Jansen haar geteister het deur boodskappe aan haar en haar man te stuur en ‘n brief waarin hy vir ‘n onderhoud vra in die posbus by haar huis gelaat het.
Die lid van die publiek teen wie die beskuldigde se ma ‘n aansoek gebring het, het volgens berigte op haar beurt ‘n klagte van intimidasie teen die aansoeker aangemeld nadat dié haar na bewering ‘n “t**f” genoem en met ‘n winkeltrollie gestamp het.
Die hofsaak op die vooraand van Vrouedag het ‘n skare vroue gelok wat Bippert en Evans ondersteun het.
Bippert sê die steun het haar net meer gefokus gemaak.
“Dit het my laat terugdink aan Tarryn-Lee Bell wat tydens ons laaste hofverskyning gesê het dapper vroue het op 9 Augustus 1956 na die Uniegeboue ge-march om noodsaaklike verandering te weeg te bring. “Daarom is dit belangrik dat ons aanhou veg vir broodnodige verandering van die Kinderwet, wat die beskuldigde in die Deveney-moordsaak, sy ma, pa en broer beskerm. Ons sal nie stilgemaak word nie en ons sal voortgaan om op te staan vir alle slagoffers en families wat deur GBG geraak word.”
Die landdros wat die aansoek moes aanhoor, het haarself “weens persoonlike redes” aan die saak onttrek.
Die saak is tot Vrydag 26 September uitgestel.
Die 18-jarige moordbeskuldigde sal op Woensdag 20 Augustus in die Caledon-landdroshof verskyn.






