Ná agt jaar se harde werk en deursettingsvermoë het Liam Strydom, ‘n gr.8-leerder aan die Hoërskool Strand, sy swart gordel op Saterdag 21 Junie by Funakoshi Karate International SA onder leiding van sensei Birgitt Smit verwerf. Liam was die enigste van 75 deelnemers wat dié prestasie behaal het – ‘n besondere mylpaal wat minder as 5% van karatekas behaal. “Ons is trots op jou toewyding, veral met uitdagings soos covid. Welgedaan, Liam!” het die skool gedeel.
Inge Vermeulen het vanjaar aan padfietsrenne begin deelneem. Elke ren strek oor 80 km en Inge was elke keer tweede. Sy is beloon deur in die Westelike Provinsie-span, wat van Maandag 14 Julie tot Vrydag 18 Julie aan die Youth Festival in Oudtshoorn deelneem, ingesluit te word. “Baie geluk, Inge, dis uitnemend en getuig van letterlike en figuurlike ysere dissipline en toewyding. Ons Arende hou jou fietsry-toekoms met belangstelling dop.”
Michael Ruzvidzo (links) het deurgedring na die haleindronde van die Proscenium-dramakompetisie by die Artscape-teater met die voordrag van gedigte, ‘n monoloog, radiodrama en prosa. Michael is een van sewe leerders wat vir ‘n rol in ‘n RSG-radiodrama gekies is. Dis uitsonderlik! Hy het boonop ‘n rol gekry in ‘n oorklankingsprojek en is ook gekies as ‘n akteur in die openingsvertoning vir die 2025-Woordfees. Hierdie produksie sal moontlik ook by die KKNK en Suidoorsterfees op die planke wees. “Groot roem vir die jong man – ons sien uit om jou loopbaan te volg. Baie geluk! Ons Arende Oscar-gehalte!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article