Nina Strydom van die Hoërskool Parel Vallei is as een van agt uitsonderlike jong akteurs gekies om aan die 2025-seisoen van die ATKV se gewilde TV-werklikheidsreeks Gekies vir die Kollig deel te neem.
Strydom se produksie getiteld Wou jy my iets vra? het die beoordelaars beïndruk en haar ‘n plek in die top-8 besorg. Volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, het hierdie finaliste “ ’n soort indrukwekkende talent wat nie misgekyk kon word nie”.
Strydom sal in Julie saam met die ander finaliste na die stel van Gekies vir die Kollig genooi word, waar sy haar toneelspeltegniek onder leiding van vier bekende mentors – Jacques Bessenger, Marlo Minnaar, Lindsey Abrahams en Hannah Borthwick – sal verfyn voordat die kameras begin rol.
Die vyfde seisoen van hierdie werklikheidsreeks beloof om besonders te wees, met die tema “magneties” wat die kreatiewe rigting aandui.
Vanjaar is ‘n ekstra episode bygevoeg, wat die totaal op vyf te staan bring en ‘n nuwe uitdaging vir deelnemers soos Strydom inhou.
Die finaliste se werk sal deur ‘n splinternuwe beoordelaarspaneel beoordeel word, wat geen vorige blootstelling aan hul produksies gehad het nie en wat sal verseker dat Strydom se produksie op sy eie meriete beoordeel sal word.
Solomon Cupido keer as aanbieder terug en sal nie net voor die kamera leiding verskaf nie, maar ook agter die skerms wenke met Strydom en die ander finaliste deel.
Gekies vir die Kollig sal van Oktober op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word, waar kykers kan sien hoe Strydom en haar mede-finaliste hul talent ten toon stel in wat beloof om ‘n boeiende seisoen van Afrikaanse jeugteater te wees.



