Rusthof Primêre Skool, toneel van 'n onlangse voorval waar die skoolhoof deur bendelede bedreig is.
Die 16-jarige Razeen Rhoda lees die berig waarin die WKOD beweer dat hy in Oktober 2024 onder die invloed van onwettige middels was tydens ’n stoeiery met ’n wetstoepassingsbeampte van die Stad Kaapstad.

‘n Skoolseun wat in ‘n selfoon-video uitgebeeld word, meen sy hart bloei nadat die beeldmateriaal weer opgeduik, opnuut wyd-en-syd versprei is en ou wonde oopgeskrap het.

Dié leerder van Strand Sekondêr was op die skoolterrein by ‘n fisieke voorval met ‘n wetstoepassingsbeampte van die Stad Kaapstad betrokke.

Die video het aanvanklik onder die opskrif ‘Die Law Dalla Wrong’ op Facebook verskyn en is deur DistriksPos en Helderberg Gazette gedek nadat dit anoniem na die koerant gestuur is.

Die leerder, wat voorheen nie geïdentifiseer is nie, en sy ouer het nou na vore getree om sy weergawe van die gebeure te deel. Hierdie weergawe verskil in verskeie opsigte van die amptelike verklaring wat vroeër deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) uitgereik is.

In die 31-sekonde-video kan gesien word hoe ‘n wetstoepassingsbeampte en ‘n leerder aan mekaar ruk en pluk. Die volwassene oorweldig die leerder en dwing hom grond toe terwyl die leerder iets in sy hand vashou. Terwyl hy op die grond is, skree die leerder na die persoon agter die kamera om aan te hou met die video-opname.

Die WKOD het bevestig dat die voorval in Oktober 2024 plaasgevind het en drie leerders was betrokke. Ná hul weiering om die skoolhoof te sien, het die beheerliggaam hulle na ‘n dwelmintervensieprogram verwys.

Die leerder in die video het homself intussen as die 16-jarige Razeen Rhoda van Rusthof identifiseer.

Rhoda sê die heropduiking van die video verhinder hom om vorentoe te beweeg ná ‘n moeilike 2024 wat hy graag wil vergeet.

“Ek het verlede jaar gesukkel om my voete by Strand Sekondêr te vind terwyl die elemente my wou insluk, maar ek het myself uit daardie put gegrawe,” sê hy.

“Ek was ‘n probleemkind, maar ek probeer om dit [agter my te kry].”

Razeen Rhoda

Die 16-jarige Razeen Rhoda lees die berig waarin die WKOD beweer dat hy in Oktober 2024 onder die invloed van onwettige middels was tydens ’n stoeiery met ’n wetstoepassingsbeampte van die Stad Kaapstad. Credit: Barend Williams

Rhoda erken sy voormalige daggagebruik, maar ontken hy was onder die invloed tydens die konfrontasie op 28 Oktober. Volgens hom was net hy en ‘n vriend betrokke – nie drie leerders nie. Hy beweer die wetstoepassingsbeampte het reeds voor skool dagga by hom afgeneem, maar hom eers tydens tweede pouse daaroor gekonfronteer. “Op die video het ek geen dwelms by my gehad nie; dit was net toiletpapier vir my sinusse,” verduidelik hy.

Hy ontken enige gewelddadige optrede en sê hy het ná die pouse vrywillig by die skoolhoof se kantoor aangemeld toe hy ontbied is. Volgens hom het die voorval hom met ‘n seer nek en bene gelaat.

Die leerder erken dat hy verkeerd was om dagga op die skoolterrein te hê, maar voel dat die situasie nie korrek hanteer is nie.

“Strand Sekondêre Skool het my tot vandag toe nog nie ingelig oor die voorval in die video nie,” sê Rhoda se ma, Shakirah.

Sy betwis die Stad Kaapstad se bewering dat die beampte dreigend opgetree het en glo die geweld was onregverdig. “Waar was die gevaar in die situasie dat hy soveel geweld moes gebruik?” vra sy. “My seun was nie gewapen nie.”

Shakirah ontken dat ‘n skoolbeheerliggaamverhoor gehou is of dat haar seun ‘n dwelmintervensieprogram moes bywoon.

“Die skool het my en my kind in die steek gelaat.”

Rhoda se ma sê sy besef Strand Sekondêr staar baie in die gesig om gehalte-onderwys te lewer, maar al wat sy vra, is dat die amptenare haar seun soos hulle hul eie kind sou behandel.

Jy moet hom ‘n pakslae gee soos jy jou kind sou slaan. Ek twyfel of daardie beampte sy eie kind op daardie manier sou straf,”

Shakirah Rhoda

Die Rhodas glo dat die WKOD die voorval verwar het met ‘n ander, wat ‘n maand vroeër (in September 2024) plaasgevind het.

Vir hierdie vroeëre voorval is Rhoda na ‘n intervensieprogram gestuur wat nie dwelmverwant was nie, maar nóg hy nóg die ander betrokke leerders het dit voltooi omdat ‘n onderwyser gesê het dit is nie nodig nie.

Shakirah sê ook die departement het valslik beweer dat sy haar seun van die skool gederegistreer het, aangesien hy tans in graad 10 by die skool is.

Bronagh Hammond, ‘n WKOD- woordvoerder, erken die departement het verkeerdelik beweer Rhoda is gederegistreer, maar bevestig drie leerders was by die video-voorval betrokke.

“Twee leerders was in die stoeiery betrokke en ‘n derde het die video opgeneem,” sê sy.

Hammond weerspreek Rhoda se bewering deur te verduidelik dat hy reeds die oggend opdrag ontvang het om by die skoolhoof aan te meld, maar nie dadelik gehoor gegee het nie. Die saak is na die skoolbeheerliggaam verwys waar hy sy weergawe kon gee.

Sy erken die leerder het ‘n dwelmvoorkomingsprogram vir ‘n afsonderlike voorval bygewoon en voltooi. Volgens die skool se rekords is kennisgewings vir dié voorval en die program aan die ouer gestuur. Die skool het ook gesprekke met haar gevoer oor haar kind se onderskeie gedragskode-oortredings.

Die skool bied sielkundige ondersteuning vir die trauma wat die leerder weens die video ervaar, terwyl plaaslike organisasies ook hulp verleen. Die skool het ook aan die betrokke leerders opdrag gegee om die video uit te wis en verspreiding te staak. Ongelukkig het ‘n leerder dit herversprei.

“Die skool erken die uitdagings en beklemtoon die belangrikheid van ouerbetrokkenheid,”

Bronagh Hammond, woordvoerder vir die WKOD.

Strand Sekondêr het die leerder se beserings aangeteken en hom vir mediese hulp verwys.

Rakende bewerings van buitensporige geweld, het Hammond die ouer na die Stad se wetstoepassingsafdeling verwys, wie se hoofinspekteur vir nakoming en media, wetstoepassing, veiligheid en sekuriteit, Wayne Dyason, versoek het dat Rhoda hom direk kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article