Rusthof Primêre Skool, die toneel waar die skoolhoof, Ikraam Wentzel, die afgelope Donderdag (5 Junie) glo met 'n vuurwapen gedreig is.
Rusthof Primêre Skool, die toneel waar die skoolhoof, Ikraam Wentzel, die afgelope Donderdag (5 Junie) glo met ‘n vuurwapen gedreig is. Credit: Barend Williams

‘n Skrikwekkende voorval het hom Donderdag (5 Junie) by die Rusthof Primêre Skool in Strand afgespeel toe die skoolhoof deur beweerde bendelede met ‘n vuurwapen en ander wapens gedreig is – net dae voordat die Junie-eksamen begin.

Twee leerders is glo net ná 14:30, toe die klok gelui het, deur vyf tieners gekonfronteer. Hierdie tieners word na bewering met ‘n bekende Strand-bende verbind.

Die leerders het desperaat na die skool se kantoor gehardloop terwyl die bendelede hulle agtervolg het.

Die skoolhoof, Ikraam Wentzel, is dadelik ingelig en het vinnig ingegryp deur die leerders in die personeelbadkamer toe te sluit.

Hy is op daardie oomblik deur die tieners gekonfronteer.

“Een van die tieners het sy jas weg- getrek om my sy vuurwapen te wys wat in sy broek gesteek was, terwyl ‘n ander geskree het hy moet my skiet,”

Rusthof Primêre Skool se skoolhoof, Ikraam
Wentzel.

‘n Vinnig denkende personeellid het dadelik die paniekknoppie gedruk, wat ‘n kitsreaksie van die polisie ontlok het. Die bendelede het egter uit die skoolgebou gevlug.

Ikraam Wentzel by die skool se noodvergadering nadat hy deur bendelede gedreig is op Donderdag 5 Junie.
Rusthof Primêre Skool se skoolhoof, Ikraam Wentzel, wat Donderdag (5 Junie) glo deur bende-lede gedreig is, tydens die noodvergadering wat gister (Maandag 9 Junie) by die skool gehou is. Credit: Barend Williams

“Ek is van Strand en ek hou al 37 jaar lank by Rusthof Primêr skool, dus is ek bewus van die uitdagings in die gebied, maar ek het nooit gedink iets soos hierdie sou gebeur nie. Ek is nie gemaak om met vuurwapens te werk nie,” het die skoolhoof gesê.

Wentzel, wat in sy tweede jaar as skoolhoof dien, het aangedui dat dit die eerste bendeverwante voorval in vyf jaar by die skool is. Volgens hom het die voorval sy personeel negatief beïnvloed, maar hy is oortuig hulle sal die eksamen steeds volgens plan laat verloop en die leerders ondersteun.

Aangesien die voorval op die skoolterrein plaasgevind het, het talle leerders dit aanskou en is hulle ook daardeur geraak.

Marie Pietersen, ‘n ouer, sê haar gr. 5-dogter is so getraumatiseer dat sy haarself beseer het.

“Toe sy by die huis kom, was sy in algehele skok. Sy het die bietjie wat van haar naels oor was, afgebyt,” het Pietersen gesê.

SKOOL ‘NIE MEER VEILIG’

Sy vrees nou vir haar kind se veilig- heid en voel dat die skool nie meer ‘n veilige hawe bied nie. Sy probeer nou haar kind ondersteun waar sy kan.

Wentzel het bevestig die voorval is by die provinsiale onderwysdepartement aangemeld en beraders vir beide onderwysers en leerders is aangevra.

Millicent Merton, ‘n departementele woordvoerder, bevestig dat berading vir diegene wat deur die voorval geraak is, gereël word, en die aanbieding van verwante programme en werksessies sal voortduur.

“Ons skole is plekke waar leerders moet leer. Bende-affiliasies, geweld, verbale dreigemente en dwelmmisbruik het geen plek in ons skole nie,” het Merton gesê.

Lisa Visser van die Gemeenskap in Blou het gesê hulle het hulle onmiddellik na die skool gehaas om te verseker die leerders is veilig. Sy en Niklaas Thysen, die voorsitter van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum, het ouers aangemoedig om ‘n meer aktiewe rol in hul kinders se veiligheid te vervul. Hulle stel voor dat ouers hul kinders persoonlik aflaai en afhaal, en ook met die gemeenskapspatrollies help.

“As ‘n ouer behoort dit natuurlik te wees om jou kind te beskerm en seker te maak dat hulle die reg het om ongesteurd te leer,”

Lisa Visser

Die Strand-polisie is ook oor die voorval in kennis gestel en het reeds die betrokke tieners tuis besoek.

AO Nico Beukes, ‘n polisie-woordvoerder, het verkeerde inligting reggestel waarin beweer is die polisie “het geweier om op te tree”.

“Met minderjariges is dit moeiliker as met volwassenes, want ons kan hulle nie sommer aanhou tensy ‘n klagte aangemeld is nie – wat tot dusver nog nie gebeur het nie,” het Beukes verduidelik.

HULP VAN BUURTWAG INGEROEP

Hy het Wentzel versoek om ‘n amptelike klagte aan te meld en gesê die skool moet rekord hou van alle voorvalle, aangesien die bendegeweld wat na die skoolterrein oorspoel, ander leerders se veiligheid en reg tot onderwys bedreig.

Tydens ‘n noodvergadering gister (Maandag 9 Junie) het Wentzel met belanghebbendes gepraat om die voorval te bespreek en verkeerde gerugte te stop. Bewerings doen glo die ronde dat die skool een van die betrokke leerders geskors het.

“Niemand is geskors nie. Ons het slegs ‘n brief aan beide leerders se ouers gestuur, wat hulle inlig dat hulle hul kinders tydens die eksamen vir hul eie veiligheid moet vergesel. Hulle kan ook kies om nie die eksamen te skryf nie, met ‘n geldige verskoning,” het Wentzel verduidelik.

Verteenwoordiger Lisa Visser vra vir verhoogde ouerbetrokkenheid by skoolsekuriteit tydens noodvergadering.
Lisa Visser, verteenwoordiger van die Gemeenskap in Blou, tydens haar toespraak by die noodvergadering waar sy vir verhoogde ouerbetrokkenheid by skoolsekuriteit gepleit het. Credit: Barend Williams

Die saak is na die skool se beheerliggaam verwys vir ‘n besluit oor ‘n ondersoek en moontlike tugstappe.

As oplossing is besluit om die hulp van die Rusthof-buurtwag in te roep.

Simon Jonas, die tesourier van die buurtwag, het aangedui dat hulle tot drie ure per dag by die skool sal patrolleer – veral tydens aflaai- en oplaai-ure, asook snags.

“Hoewel dit hartseer is dat dit gebeur het, is ek vol vertroue dat so ‘n voorval danksy die buurtwag se ondersteuning nie weer sal plaasvind nie,” het Wentzel afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article