Winston Siljeur
Winston Siljeur hoop om met sy debuut-enkelsnit “Sy Liefde” harte te raak.

Winston Siljeur, ‘n inwoner van Somerset-Wes, het op Vrydag 18 April sy debuut-enkelsnit “Sy Liefde” – ‘n gepaste Paasliedjie – vrygestel.

Die vyf minute lange Afrikaanse gospellied is deur die bekende Bybelvers Johannes 3:16 geïnspireer, wat volgens Siljeur die wese van Christenskap vasvang. Siljeur, oorspronklik van Robertson, het na Kaapstad verhuis met ‘n droom om op te tree en mense deur sy musiek te bedien.

“Ek het van buite gekom en my eie pad gebaan vir ‘n vastrapplek in die bedryf,”

Winston Siljeur

Die pianis, wat al jare lank verskillende genres musiek vervaardig, het vanjaar besluit om sy eie werk uit te reik. “Sy Liefde” is langer as tien jaar gelede al geskryf toe dié 41-jarige homself die missie gestel het om ‘n Afrikaanse gospellied te skryf. Van 2015 af het sy voormalige groep, die Winston Siljeur Project, die lied oral in die Wes-Kaap uitgevoer.

“Ek is nie regtig ‘n liriekskrywer nie, maar daardie woorde is deur die Gees gelei,”

Om die liedjie lewendig te maak, het Siljeur die sanger Pearl Adams genader. Hy glo haar stem dra die siel van God se liefde oor die lied. “Pearl het ‘n sterk stem wat my aan Amerikaanse kunstenaars herinner – daar’s daardie stilte, maar tog ‘n sielvolheid wat God gesalf het,” sê hy.

Hy wou die gevoel van sogenaamde urban gospel vibes in Afrikaanse gospel-musiek vasvang. Om dit te bereik, het hy saam met die Britse gospelkunstenaar en kitaarspeler Noël Robinson en die Amerikaans-gebaseerde pianis en musiekvervaardiger Thomas Hardin jr. gewerk. Tog het hy steeds ‘n Suid-Afrikaanse geur behou met plaaslike talent soos Ethan Prins op tromme, Roche Europa op baskitaar en Stacey Abrams vir die agtergrondsang.

Siljeur het die lied op Goeie Vrydag (18 April) vrygestel, “want dit handel oor die kruisiging, God se liefde vir ons en die idee dat daar geen groter liefde as dit is nie”. Hy gebruik sy eie lewe as voorbeeld. “Daar is ‘n gesegde wat vra: ‘Wat goeds kan uit ‘n klein dorpie kom?’ Ek is altyd aan die voorpunt om waar ek vandaan kom, te bevorder, want ek wil graag hê dit moet ander inspireer.”

Winston Siljeur speel klavier terwyl hy aan sy lied “Sy Liefde” werk.
Winston Siljeur se debuut-enkelsnit “Sy Liefde” is ’n Afrikaanse gospellied geïnspireer deur Johannes 3:16.

 Luister na “Sy Liefde” by https://song.link/xfrwm02hxpvv7 of stuur ‘n epos na bookings@winstonsiljeurproductions.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article