Sir Lowrians het Saterdag ( 10 Mei) ‘n kliniese vertoning gelewer toe hulle die Gordon’s Bay Leopards met ‘n oorweldigende 8-50 van die veld gevee het en hul status as gunstelinge in die wedstryd in die Noordelike liga bevestig het.
Sir Low het vinnig op die voorgrond getree en reeds in die openingsminute die doellyn ná volgehoue aanvalle oorgesteek. Teen rustyd het hulle reeds drie drieë gedruk, terwyl die Leopards ‘n strafskop oorgeklits het (19-3). Ten spyte van die telling het die Leopards se verdediging in die eerste helfte groot karakter gewys.
Die veld in Gordonsbaai was ietwat glibberig weens oornag- en vroegoggendreën, wat die hantering van die bal soms bemoeilik het, maar die weer het goed gehou tydens die wedstryd en vinnige spel moontlik gemaak.
In die tweede helfte het Sir Lowrians sy voorsprong verder uitgebrei met nog vyf drieë. Tervin Britz het met ‘n driekuns uitgeblink, terwyl Randy Brinkhuis twee keer gaan druk het en drie skoppe deur die pale gestuur het.
Jadrian Petersen, Ashley Stephanus en Cheraldwin Damens het elk ook ‘n drie aangeteken en Lincoln Koopman het twee doelskoppe bygevoeg.
GB Leopards het laat in die wedstryd ‘n troosdrie behaal nadat Sir Lowrians tot 13 spelers verminder is weens geelkaarte vir ongedissiplineerde spel by afbreekpunte.
Al het die tuisspan tye van vasberadenheid getoon, was dit ‘n afgeronde en oorheersende vertoning van Sir Lowrians, wat hul aanspraak op kampioenskapstatus verder versterk het.
Vir Gordon’s Bay Leopards het Marlin Sauls ‘n strafskop aangeteken en Cheslin Julies het hul enigste drie gedruk.
In Super Liga A het die Helderberg-rugbyklub erg drooggemaak teen die swak span van die Universiteit van Wes-Kaapland.
Die reënweer het die span van Strand kwaai geraak. Hulle kon net nie aan die gang kom nie en moes aanskou hoe UWK sy eerste oorwinning van die seisoen behaal. Die rustydtelling was 8-5 in UWK se guns ná ‘n drie en ‘n strafdoel teenoor ‘n drie vir Helderberg deur Christian van Zanten.
In die tweede helfte het Berge se puik haker, Mauritz Swart, twee keer gedruk, terwyl sy losskakel, Brendan Venter, een verdoel het. Intussen het UWK se akkurate skopper drie strafdoele en ‘n doelskop oorgeskop en ‘n drie gedruk vir ‘n 24-17-sege.
Vir Berge het sy kaptein en flank Jody Labuschagne blink vertoon en in die lynstane oorheers. Verder het die agtsteman Erhard Lambrecht en flanke Van Zanten en Blaine Skelton asook Swart uitgeblink. Helderberg moet waak teen onderskatting van hul teenstanders as hulle nie weer wil swak speel nie.
Ander uitslae:
– SLA: St George’s 10-52 Maties.
– SLC: Strand 5-23 Violets, Rangers 20-19 All Saints, Gardens 23-12 Strand United.
– Noordelike liga: Blue Stars 15-23 Raithby Universals.
Bepalings vir Saterdag 17 Mei:
– SLA: Helderberg t. SK Walmers (Groenpunt), St George’s t. Tygerberg (Gustrouw).
– SLB: Bellville t. Macassar (Bellville).
– SLC: Strand United t. Young Peoples (Abattoir), All Saints t. Delft (Helderzicht)
– Noordelike Liga: Sir Lowrians t. Stellenbosch-Coronations (Stellenbosch), Gordon’s Bay Pioneers t. Windmeul (Paarl), en Raithby Universals t. Excelsior (Raithby).









You must be logged in to post a comment.