Monray Daars, ‘n inwoner van Strand, agter die oond vir die UCT Ikey Tigers tydens die Varsitybeker-eindstryd teen Maties in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Foto: Luigi Bennett/Varsity Cup

‘n Talentvolle rugbyspeler van Strand het ‘n deurslaggewende rol gespeel om die FNB-UCT Ikey Tigers se 11-jaar-droogte in die FNB-Varsitybeker te beëindig.

Monray “Nonie” Daars van Broadlandspark het Maandag 14 April sy span se laaste drie in die eindstryd voor ‘n vol Danie Craven-stadion in Stellenbosch gedruk en verseker dat die Kaapse studente die trofee lig. Die Ikeys, wat in die eindstryd teen sy aartsvyand en die gunsteling, die FNB-Maties, te staan gekom het, het die wedstryd 21-44 gewen.

Daars, wat as skrumskakel vir die Universiteit van Kaapstad aangetree het, het met sy span se laaste drie nie net die harte van die Maties-spelers en -ondersteuners gebreek nie, maar ook die 150ste bestaansjaarvierings van die US versuur.

Dié 20-jarige is in Strand gebore en getoë. Hy het sy laerskoolloopbaan aan Dr. G.J. Joubert Primêre Skool begin en die eerste paar jaar van sy hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Strand deurgebring voordat hy in 2020 met ‘n beurs na die Hoërskool Durbanville gelok is.

Die Strand-gemeenskap het ‘n belangrike rol in die vormingsjare van sy rugbyloopbaan vervul en dis in dié Helderbergse dorp waar sy liefde vir die sport gekweek is, vertel Daars.

“Strand en sy mense is die rede waarom ek op die toppunt van universiteitsrugby kan speel en ek bo-op die berg as ‘n kampioen kan staan,” sê hy. “Om rugby te speel, is die beste gevoel, veral as ons ‘n wedstryd gewen het.”

Dié kranige sportman het slegs ‘n paar weke voor die eindstryd sy buiging vir die Ikeys gemaak toe hy op 31 Maart in ‘n oorwinning oor FNB UJ vir dié span uitgedraf het. Die volgende Maandag (7 April) is dié tweedejaar sosiale wetenskappe-student weer vir die UCT-beginspan gekies, wat in die halfeindstryd teen FNB-UP-Tuks in Pretoria gewen het.

Benewens die wendrie, het Daars ook ‘n hand in die Ikeys se openingsdrie gehad. “Ek was net dankbaar om in die eindstryd te speel; ek het nie verwag dat ek ‘n drie sou druk nie,” het hy nederig gesê.

Hy beskou dié twee oomblikke as sy hoogtepunte van die eindstryd, maar noem ook dat hy so hittete in die tweede helfte af was, toe sy laagvat op Maties-speler in ‘n suksesvolle strafskop geëindig het.

“Ek was gebroke toe hulle op die witkaart besluit het, want ek het nie bedoel om ‘n hoë duikslag deur te voer nie; almal kon dit ook sien,” sê Daars.

Tog het hy in die 74ste minuut vir sy fout opgemaak toe hy die wendrie onder die pale gedruk het. Dié vyf punte en die doelskop het die oorwinning vir die Ikeys beklink. “Ek het nie gevoel dat ek met die drie vir die fout opgemaak het nie, maar wel met my spel in geheel. ‘n Mens moet onthou dis net ‘n wedstryd en almal maak foute; die manier wat jy daarop reageer en aanbeweeg, is wat tel.”

Sy trotse ma, Mary, het ‘n video van die wendrie op die Broadlandspark-gemeenskap se Facebookblad gedeel, met die onderskrif, “Tarriekind”, ‘n verwysing na haar seun se herkoms. Lede van dié groep het hul gelukwense en trots oor die plaaslike rugbyheld se prestasties gedeel. “So trots op die kind; ons eie Nonie,” het een geskryf. Nog een het gesê: “Ons toekomstige Bok”.

As tjokkertjie het Daars met trots vir die Strand-rugbyklub uitgedraf en hy meen die klub het steeds ‘n invloed op due tipe rugby wat hy speel. “As jong speler by die Strand-rugbyklub, is vir my gesê ‘jy kan nie bang wees om te duik nie’,” onthou Daars, wat teen 1,66 m en slegs 75 kg nie die grootse speler op die veld is nie. “Met hierdie woorde het coach Ali Harris en die ouer spelers my hard gemaak.”

Daars is dankbaar vir die ondersteuning wat hy wat inwoners van Strand ontvang, en skryf sy sukses toe aan die Hemelse Vader. Hoewel hy rugby ten volle geniet, het hy nie juis planne om ‘n loopbaan in die sport na te streef nie. “Ek wil net my rugby geniet en my beste elke dag lewer,” vertel hy.

“Ek sal voortgaan om Superliga A-rugby te speel en sal steeds harde rugby speel, want Strand vloei deur my are.”

Monray Daars met die gesogte Varsitybeker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article