Die Macassar-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het ‘n dringende beroep aan die Stad Kaapstad gedoen vir meer kringtelevisie-kameras in die gemeenskap nadat ‘n patroon van lykstorting in dié gebied weer na vore gekom het.
“Dit lyk asof Macassar weer ‘n stortingsterrein vir lyke word,”
‘n lid van die GPF.
Monalisa Solomons, die GPF se woordvoerder, meen hulle het ‘n dringende saak vir kameras in Macassarweg tussen Kramatweg en Baden Powell-rylaan en sê die kameras se beheerpaneel moet in Macassar wees. Hulle wil hê die kameras moet deur plaaslike inwoners bestuur word, omdat daar glo ‘n toename in motors is wat die gemeenskap binnekom en moontlik tot die probleem kan bydra.
DistriksPos & Helderberg Gazette het voorheen berig oor twee lyke wat onlangs in Macassar gekry is. Die lewelose liggaam van die 15-jarige Marcelo Hartzenberg is op Woensdag 12 Februarie in ‘n oop veld naby Macassarweg ontdek (“Seun se liggaam in veld gevind“, 19 Februarie). Nog ‘n lyk is op Saterdag 15 Maart om 04:00 in Sheikh Yusuf-laan, Macassar Village, aangetref.
Die Stad Kaapstad se Metro-polisie het verder nog twee gruwelike ontdekkings van lyke bevestig wat onderskeidelik op Saterdag 15 Maart en Maandag 17 Maart gevind is.
Volgens die woordvoerder Ruth Solomons is twee kringtelevisiekameras reeds in Macassar opgerig. Een is operasioneel, terwyl die ander weens opknappings nie werk nie. Die beheerbasis vir hierdie kameras is in Goodwood. Sy het verduidelik dat die doel van die kameras is om misdaad te bekamp en te voorkom.
Die polisie het toegang tot die beeldmateriaal en het dit reeds in Januarie vanjaar in ‘n strafbaremanslagsaak gebruik.
“Om die GPF se versoek uit te voer, moet finansiering beskikbaar wees en die koste sal afhang van waar die kameras geïnstalleer word,” het Solomons gesê.
Sy sê ook kringtelevisie-kameras is nie net die Stad se mandaat nie en die GPF moet ook met die Macassar-polisie praat omdat hulle die hoofagentskap is om kameras aan te vra.
Luit.kol. Arnold Roux, die stasiebevelvoerder vir die Macassar-polisie, sê hoewel nuwe tegnologie altyd verwelkom word en Macassarweg die ideale plek is vir die installering van kameras, is daar geen patroon van lykstorting in die buurt nie.
“Van die 85 moorde wat in Macassar gepleeg word, word slegs 15% naby die sandmyne langs Macassarweg gepleeg,”
Luit.kol. Arnold Roux, die stasiebevelvoerder vir die Macassar-polisie
Hy glo om mense bewus te maak van die lyke wat gestort word, sal die teen- oorgestelde uitwerking hê. Roux het verduidelik dat die fokus daarop bendes sal lok en Macassar in ‘n begraafplaas sal verander.
“Ons patrolleer die gebiede gereeld en moorde hier het vir die tweede jaar reeds [gedaal],” verduidelik hy.
Roux het bygevoeg dat die Wyk 109- raadslid Peter Helfrich in die saak betrek sal moet word, aangesien hy wel op vergaderings genoem het dat daar planne is om nog kameras in Macassar op te rig.
Helfrich sê die kameras sal net ‘n afskrikmiddel vir misdadigers wees en wat Macassar eintlik nodig het, is meer stewels op die grond om die lykstortings die hoof te bied.
“Ons, as ‘n gemeenskap, vra al lank vir meer polisie-sigbaarheid in en om Macassarweg,” sê Helfrich.
Die raadslid verduidelik verder dat kameras elke jaar in die wyk aangebring word. Daar is reeds ontwikkeling om ‘n kringtelevisie-moniteringsentrum in Macassar te stig en plaaslike
gemeenskapveiligheidsorganisasies sal help om hierdie kameras te monitor.
“Ek sal die GPF uitnooi om ‘n terreinbesoek aan hierdie moniteringsentrum saam met my te kom doen sodra dit voltooi is. Die sentrum en die tegnologie sal aan hulle bekend gestel word,” sê hy.




