‘n Ware kanniedood.

Sy is voorwaar ‘n vrou van formaat en ‘n tawwe tienie duisend – iemand van wie tereg deur kollegas gesê word dat sy ‘n “lopende ensiklopedie” is as dit by eiendomme kom.

Ilse Haward (69) van Somerset-Wes is tans prinsipaal van ses eiendomsmaatskappytakke oral in die land – tot so ver as Bloemfontein. Die feit dat sy die akademiese en analitiese sy van die eiendomsmark so goed bemeester, het tot gevolg gehad dat sy in bestuursposisies aangestel is.

Sy is ook bestuurder van die afstandbeheerde agentskap van die maatskappy met 45 aanlyn-eiendoms- agente. Ilse glo dit het onder meer gekom as gevolg van die feit dat sy so rigied volgens die letter van die wet werk.

Sy word boonop gereeld deur eiendomsmaatskappye “ge-headhunt”.

Voorts doen sy dikwels namens die maatskappy se hoofkantoor aanlyn opleiding vir agente landwyd. Sy dra ook ‘n “hoofkantoorhoed” as sakebestuurder wanneer sy sowat drie keer per jaar

Johannesburg toe vlieg waar sy deel is van hul hoofkantoor se strategiese be-

planning. Sy skryf ook opleidingsmateriaal.

Ilse was aanvanklik ‘n onderwyseres met onder meer Afrikaans, voorligtingsielkunde en Frans as vakke. Sy het vir 10 jaar aflosposte beklee terwyl haar man, George, telkens verplaas is.

Ná die geboorte van hul oudste kind, Dylan, in 1982 en sy sussie, Kirstin, in 1986 het sy vir ‘n paar jaar tuisgebly.

Aan die begin van 1988 het ‘n kennis, wat ‘n eiendomsagent was, haar gevra om haar assistent te word en haar administrasie te hanteer. Ná twee weke het die gogga haar gebyt en sy het besluit om tot die beroep toe te tree. Daarna kon niks haar keer nie.

Sukses het egter nie so maklik gekom nie. Ilse was besonder lief vir stap en het destyds verskeie van die moeilike en lang staproetes voltooi.

In Februarie 2019 het sy op 64 saam met ‘n groep vriende in die Bosveld gaan stap toe sy bosluiskoors opgedoen het. Haar bloeddruk het daarna geweldig gestyg en vier weke later het sy ‘n beroerte gehad. Die linkerkant van haar liggaam was heeltemal verlam.

Vir die res van daardie jaar het sy grootliks in ‘n rehabilitasiesentrum en by familie aangesterk.

Haar dogter, Kirstin, dié se man, Patric, en hul baba, Cade, sy ouma se hart se punt, is boonop in 2020 Nederland toe om hulle daar te vestig. Kirstin het vroeër ‘n dramagraad behaal. Cade, nou vyf, noem Ilse “Ouma” met ‘n Nederlandse aksent.

In ‘n ernstige gesprek tussen volwassenes waar hy by was, het hy haar eenkeer uit die bloute gevra, “What do you think, Ilse?”

Dylan is op 35-jarige ouderdom in ‘n motorongeluk oorlede. Hy het in sy ma se voetspore gevolg en as eiendomswaardeerder gewerk.

Sy kon ná haar beroerte en Dylan se dood gaan lê, maar het besluit, “Nee! Solank my kop nog werk, gaan ek voort!”

En dis presies wat sy doen: Sy gaan kuier een keer per jaar by Kirstin en haar gesin in Nederland saam met haar suster, Annette, maar soms selfs alleen. Hulle twee het ook al per skip Namibië toe gevaar.

Wanneer sy voel dat die mure van die tehuis waar sy tans bly haar ‘n bietjie vasdruk, gaan sy en haar elektriese rolstol Somerset Mall toe en ry op en af in die gange terwyl sy heerlik “window shopping” doen.

Ilse het sowat ‘n jaar gelede besluit om in ‘n plek te gaan bly waar daar geriewe is soos die was van wasgoed, die voorsit van etes, en die skoonmaak van kamers. Verder doen sy alles self.

Haar kamer is die meeste van die tyd haar kantoor, hoewel sy soms na die kantoor in Somerset-Wes gaan.

Tyd vir ontspan is egter nie volop nie. “Ek is dol oor en verslaaf aan my werk. Dis my behoud. Ek is ‘n absolute werkolis.”

As dit dan regtig “moet”, lees sy, kyk na rolprente op Netflix, besoek die teater en eet graag uit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article