‘n Pensioentrekker is in die hospitaal opgeneem nadat ‘n verwoestende brand by sy huis in Strand uitgebreek het.
Die voorval het die afgelope Saterdag (24 Mei) in ‘n woonbuurt in die middedorp afgespeel toe ‘n dubbelverdiepinghuis in Scottstraat dié oggend in vlamme uitgebars het.
Die 69-jarige het met net die klere aan sy lyf aan die vlammehel ontsnap.
Die brandslagoffer, bekend as Bernard Geldenhuys, het nie net die kamer verloor wat hy die afgelope 11 jaar gehuur het nie, maar al sy besittings ook.
“Hy het geen familie nie en ly aan ‘n mediese toestand. Ons weet nie waar hy gaan bly wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word nie,” sê Marlene Papenfus, Geldenhuys se vorige werkgewer.
Volgens Papenfus is Geldenhuys ná die huisbrand in die waaksaal opgeneem met tweedegraadse brandwonde en weens rookinaseming.
Jermaine Carelse, ‘n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het brandweerspanne om 09:30 op ‘n noodoproep oor ‘n brand by Scottstraat 3 gereageer. Brandbestryders van die Strand-, Sir Lowry’s Pass- en Mfuleni-brandweerstasie is na die toneel ontbied.
“Tien mense is weens die brand haweloos gelaat,” het Carelse gesê.
Hy het bygevoeg dat twee mans in die brand beseer is. Geldenhuys, asook ‘n tweede man wat rook ingeasem het, is op die toneel behandel en na ‘n plaaslike mediese fasiliteit geneem.
Carelse het verder bevestig die ander huise op die eiendom is nie deur die brand geraak nie, maar die hoofhuis het beduidende skade opgedoen.

Ellie van Rooyen, ‘n pensioentrekker wat al 31 jaar op die eiendom woon, vertel sy was reeds wakker toe die brand uitgebreek het. “Ek het die vlamme gesien en toe klop iemand aan my venster voordat hulle dit gebreek het om my uit te kry,” onthou sy.
‘n Ander inwoner, Gerald van der Merwe (68), wat op die grondvloer van die huis woon, sê hy het ‘n ontploffing van die boonste verdieping af gehoor en hom gehaas om te gaan kyk wat aangaan. “Ek is ‘n voormalige brandweerman, en ek het gedink ek kan help,” sê hy. “Toe ek bo kom, het ek net vlamme gesien.”
Die huis se dak is beskadig en teen druktyd kon amptenare nog nie vasstel wat presies die brand veroorsaak het nie en of dit inderdaad ‘n ontploffing was wat plaasgevind het.
Papenfus doen ‘n beroep op ander vir broodnodige skenkings om Geldenhuys te help om weer op die been te kom.
Sy sê hy het voorheen by Moolman Trailers in Strand gewerk. Toe sy gesondheid egter agteruitgegaan het, kon hy nie meer werk nie en het hy eenvoudig opgehou om werk toe te gaan.
Bel Papenfus by 081 316 1298 vir skenkings of navrae.





You must be logged in to post a comment.