’n Sake-eienaar en een van sy werknemers is deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaad-ondersoeke (die Valke) in hegtenis geneem weens vermeende onwettige handel in steroïede vanuit hul “fiksheids”-winkel in Gants Plaza in Strand.
Volgens Zinzi Hani, ’n woordvoerder van die Valke, is Jean Stemmet (24), ’n werknemer by Nutrition Technology, Maandagoggend 26 September in hegtenis geneem waarna die onderneming se eienaar, Christiaan Jacobus Roode (38), homself later aan die Valke oorgegee het.
“Die Valke, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, het Stemmet in hegtenis geneem in verband met die beweerde oortreding van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe (Wet 101 van 1965),” sê Hani.
Volgens Hani is ’n lasbrief vir Nutrition Technology uitgereik nadat inligting ontvang is dat die eienaar steroïede uit sy winkel verkoop.
Volgens die Valke se ondersoek het Roode nie die nodige dokumentasie gehad om steroïede in sy winkel te verkoop nie.
“Gedurende die soektog is beslag gelê op talle soorte steroïede, waarvan die waarde nog nie geskat is nie, sowel as ’n groot bedrag kontant (waarvan die waarde nog bereken moet word) wat vermoedelik die opbrengs van misdaad is,” sê Hani.
Stemmet is by die winkel genader vir kommentaar van sy kant asook die eienaar se kant af, maar hy het verkies om nie Distrikspos & Gazette se vrae te beantwoord nie.
Die twee het Dinsdag 27 September in die Strand-landdroshof verskyn en is op borgtog van onderskeidelik R5 000 en R10 000 vrygelaat.
Die saak is tot Maandag 31 Oktober uitgestel.



