Die skouspelagtige revue by Laerskool Hendrik Louw, met meer as 1 000 leerders van graad RR tot 7, het gehore betower met ’n spannende storielyn, briljante choreografie en asemrowende kostuums, terwyl hulle die avontuurlike reis van twee vriendinne en hul pakkies oor die wêreld heen gevolg het.


’n Spannende storielyn, briljante choreografie en asemrowende kostuums verseker ’n skouspelagtige vertoning. Meer as 1 000 leerders het vir vyf opeenvolgende aande die verhoog betree en die gehoor se asems weggeslaan.

Tydens die week van 9 September, het Laerskool Hendrik Louw elke aand sy revue aangebied. Alle kaartjies is uitverkoop. Daar het net meer as ’n duisend leerders vanaf Graad RR tot Graad 7 op die verhoog verskyn vir ’n musiekblyspel met solo sangers, die senior-koor, ukulele-spelers en ses hoofkarakters wat die storie vertel. Elke graadgroep is in vier of vyf groepe opgedeel wat die storie in danse uitgebeeld het.

Die Revue het die verhaal vertel van twee tienervriendinne, Emily en Carli, wat idees uitruil vir klere vir die gr.7-afskeid. Die twee vriende besluit om die nuwe Amazing-zingg App te toets deur ’n rok aanlyn te koop. Al die resensies van die aanlyn winkel belowe dat geen pakkie ooit verlore gaan nie.

Die ander vier hoofrolle was die pakkies wat bestem is vir Hawaii, Cali (bestem vir California), Ammie (New York) en Saffa (Kaapstad). Die gehoor het hul reis oor die wêreld heen gevolg om hul finale bestemming, die twee vriendinne in Suid-Afrika, te bereik.

Die begin is met die oulike gr.RR-groep wat doenig is in die besige fabrieke van China. Daarna het die vier pakkies ’n epiese avontuur vol onverwagte kinkels. Hulle val oorboord van ’n vragskip af en tuimel in die ysige waters van die Noordsee, net om hulself gevries in Alaska te bevind. Die gr.R-groep werk ook hard in die fabrieke, die gr.1-groep hou partytjie in China, die gr.2-groep werk op die bote, beleef ’n storm en seerowers en die gr.3’s dans in ’n wêreld onder die see.

In die tweede helfte, was dit die gr.4- tot 7-leerders se beurt en die pakkies het die tyd van hul lewens op skouspelagtige plekke. Hulle ontvries van die ontberinge in Alaska en ontspan op die sonnige strande van Hawaii saam met die gr.4-leerders, waar hulle ’n onvergeetlike strandpartytjie geniet. Van daar af dans hulle op die goue strande van Kalifornië saam met die gr.5-leerders en toer deur die state van Amerika tot in New York. Hier beleef die pakkies die strate van New York en Broadway saam met die gr.6-leerders. Intussen is die twee vriendinne rasend van bekommernis oor die pakkies wat nie opgespoor word nie. Eindelik word die laaste pakkie, Saffa, in Brasilië saam met die gr.7’s opgespoor. Hier hou hulle karnaval en dans in kleurvolle vere tot die son opkom.

Ná ’n warrelwind-avontuur oor die wêreld heen, word die laaste pakkie, Saffa, in Suid-Afrika afgelewer. Die inhoud van die pakkie is ongelukkig nie wat bestel is nie, maar die gehoor het vasgenael gesit en ’n skouspelagtige vertoning vol lag, musiek en avontuur beleef Die skoolonderwysers weet presies hoe om ’n revue vir meer as 1 000 leerders op die planke te bring!

Klank en ligte is deur www.audioelite.co.za verskaf. Foto’s is deur www.tolkenmedia.co.za geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article