‘n Man is dood en nog een gewond in ‘n vermeende bendeverwante skietvoorval in Macassar op Vrydag, 13 September, met plaaslike polisie wat die voorval ondersoek en inligting soek om die verdagtes aan te keer.


Een man is dood en nog een gewond in ’n vermeende bendeverwante skietvoorval in Macassar.

Die voorval het Vrydag 13 September in die Bell Glen-gemeenskap afgespeel toe gewapende mans op ’n motorvoertuig losgebrand het.

Die voorval volg terwyl ’n donker wolk nog oor die Macassar-gemeenskap hang nadat die minibustaxibestuurder Wayne Conradie doodgeskiet is (“Skietery eis taximan (39), DistriksPos & Helderberg Gazette, 4 September).

Die slagoffer is Donderdag 29 Augustus op die oog af koelbloedig vermoor deur twee gewapende mans wat in die vroeë oggendure op sy minibustaxi by die taxistaanplek in Zandvlietweg losgetrek het.

Talle rouklaers het die afgelope naweek hul laaste eer aan Conradie betoon.

Vrydag se voorval het omstreeks 21:50 voor ’n perseel in Carnationstraat afgespeel.

Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk het plaaslike polisielede met hul aankoms op die misdaadtoneel ’n wit Kia Sportage vol koeëlgate buite die perseel aangetref.

“Die twee insittendes is reeds deur mediese personeel bygestaan en is na ’n nabygeleë hospitaal gehaas,” het Van Wyk gesê.

Volgens die polisiewoordvoerder het een van die slagoffers, ’n 42-jarige man, later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die ander slagoffer, ’n 32-jarige man, het die voorval met skietwonde aan die onderlyf oorleef.

“Die omstandighede rakende die skietvoorval word ondersoek. Die motief is vermoedelik bendeverwant. Niemand is nog in hegtenis geneem nie aangesien die verdagtes tans onbekend is,” het Van Wyk gesê.

“Macassar-speurders is hard aan die werk en volg inligting tot hul beskikking op in ’n poging om die verdagtes wat vir die moord op die 42-jarige man en die poging tot moord op ’n 32-jarige man verantwoordelik is, aan te keer.”

. Enigiemand met inligting oor hierdie skietvoorval word vriendelik versoek om Crime Stop by 08600 10111 of via die MySAPS-app te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article