Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:
Halloumi-kaas, ontpitte kalamata-olywe, vars suurlemoen, gemarineerde songedroogte tamaties in olyfolie, koeskoes
Met hierdie bestanddele kan jy die volgende maak:
Medittereense halloumi en koeskoes slaai
Bestanddele (genoeg vir 2-3):
- 250 g halloumi, in skywe gesny
- 1 k rou koeskoes
- 6-8 gemarineerde songedroogte tamaties, gekap
- ½ k ontpitte olywe, gehalveer
- Skil en sap van 1 ryp suurlemoen
Opsioneel: kruie soos oreganum of basielkruid na smaak, en rissievlokkies indien jy van bietjie skop hou
Metode:
- Plaas die koeskoes in ’n bak, voeg 1 koppie kookwater (of warm groenteaftreksel as jy dit het) by, bedek en laat staan vir 5 minute. Roer deur met ’n vurk.
- Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n pan. Braai die halloumi vir 2–3 minute aan elke kant tot goudbruin. Hou eenkant.
- Braai die songedroogde tamaties, olywe en opsionele kruie vir 1–2 minute in dieselfde pan.
- Voeg die tamatie-en-olyfmengsel by die koeskoes. Roer die suurlemoenskil, suurlemoensap, bietjie van die olie waarin die tamaties ingelê was en sout en swartpeper by.
- Pak die goudbruin halloumi bo-op en sprinkel vars kruie oor. Dit is heerlik warm of koud!
Indien jy ons QR-kode in die koerant skandeer het, is hier jou drie variasies op die resep:
Geroosterde patats met halloumi en songedroogte tamaties
Voeg by: patats, baba-spinasie
Laat weg: koeskoes en olywe
Bestanddele:
- 300 g oranje patats, in blokkies gesny
- 150 g koeskoes
- 200 g halloumi
- 100 g baba spinasie
- 1 suurlemoen
- 6-8 songedroogte tamaties, fyngekap
Metode:
- Sprinkel bietjie olyfolie en sout en peper na smaak oor die patatblokkies. Rooster vir 25 minute by 200°C of tot sag.
- Berei die koeskoes met 180 ml kookwater voor en braai die halloumi soos in die bostaande resep tot goudbruin.
- Meng die warm patat en spinasie deur die koeskoes. Roer ook die songedroogte tamaties by, en sprinkel ’n bietjie vars suurlemoensap oor.
- Skep op in bakke en sit ’n paar stukkies halloumi bo-op elke porsie.
Romerige halloumi-pasta
Voeg by: pasta, room, avokadopeer
Laat weg: koeskoes, olywe
Bestanddele:
- 200 g pasta (penne of fusilli werk goed)
- 200 g halloumi, in blokkies gesny
- 100 g songedroogte tamaties, gekap
- 1 groot avokado, in skyfies gesny
- 1 suurlemoen
- 125 ml vars room
Metode:
- Kook die pasta in soutwater volgens die pakkie se aanwysings. Hou 125 ml pastawater eenkant voordat jy die pasta dreineer.
- Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n pan. Braai die halloumi vir 3–4 minute tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant.
- Voeg die songedroogde tamaties by dieselfde pan en braai vir 1–2 minute.
- Voeg die room en 60 ml pastawater by. Laat liggies prut vir 2 minute.
- Voeg die gaar pasta en halloumi by. Meng goed en voeg nog pastawater by indien die sous te dik is. Geur met swartpeper. Net voor dat jy dit voorsit, sit skyfies vars avokado bo-op en drup ’n bietjie suurlemoensap oor.
Rysslaai met halloumi en olywe
Voeg by: basmatirys
Laat weg: koeskoes
Bestanddele:
- 150 g rou basmatirys
- 200 g halloumi, in blokkies gesny
- 80 g ontpitte kalamata-olywe, gehalveer
- 100 g songedroogte tamaties, gekap
- Sap en skil van 1 suurlemoen
Metode:
- Spoel die rys af en kook volgens die pakkie se aanwysings tot sag en donsig.
- Verhit 1 eetlepel olyfolie in ’n groot pan. Braai die halloumi vir 2–3 minute aan elke kant tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant.
- Voeg die songedroogde tamaties en olywe by dieselfde pan. Braai liggies vir 2 minute.
- Skep die gaar rys in die pan en meng goed met die tamaties en olywe.
- Voeg die suurlemoenskil en 1–2 eetlepels suurlemoensap by. Geur met swartpeper.
- Meng die halloumi liggies deur die rys of pak dit bo-op.
