Vinnige vyf met Kasslertjops

Vinnige Vyf.

Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:

Kasslertjops, Engelse mosterd, bruinsuiker, droë sider, meel

Met dié bestanddele kan jy die volgende maak:

Gebakte Kasslertjops in sidersous

Bestanddele:

  • 4 Kasslertjops
  • 1 e Engelse mosterd
  • 25 g bruinsuiker
  • 300 ml droë sider
  • 2 e meel

Metode:

  1. Plaas die tjops in ’n oondbak waarin hulle knus pas. Meng die mosterd en suiker saam in ’n klein bakkie saam met 2 e van die sider om ’n gladde pasta te vorm. Smeer bo-oor die tjops, bedek met kleefplastiek en laat marineer vir ten minste 10 minute (tot 2 ure is fantasties). Draai een of twee keer om tydens die proses.
  2. Voorverhit die oond tot 200°C. Verwyder die kleefplastiek en bak die tjops vir 15 minute.
  3. Verhit ’n bietjie botter in ’n pan, voeg die meel by en braai vir ’n minuut terwyl jy aanhoudend roer.
  4. Klits die res van die sider geleidelik by en kook nog 2-3 minute tot die sous glad is en begin verdik. Geur met sout en peper.
  5. Haal die tjops uit die oond en giet die sous oor. Bak vir nog 15 minute tot deurgaar en sag. Sit voor saam met die sous en ’n stysel soos kapokaartappels of pap om die sous op te slurp.
  • Resep aangepas van een in die boek Just five ingredients deur Ainsley Harriot.

Indien jy die kode in Die Papier skandeer hier, is hier jou drie variasies op dié resep:

Kasslertjops met sider-en-uie-sous

Voeg by: 1 groot ui, gekap

  1. Verbruin die tjops in ’n kleefwerende pan en plaas eenkant.
  2. Braai die uie in ’n bietjie botter, sprinkel 1 e meel oor en roer geleidelik 1 koppie sider by.
  3. Voeg 1 t mosterd by en 1-2 e bruinsuiker. Sit die tjops in die sous en prut vir 10 minute. Sit voor saam met ’n stysel van jou keuse.

Appel, sider en mosterd Kasslertjops

Voeg by: 1 groot appel, in skywe gesny

  1. Verbruin die tjops in ’n kleefwerende pan. Voeg die appelskywe by.
  2. Meng ½ koppie sider, 1 e mosterd en 1 e bruinsuiker en voeg by die bestanddele in die pan. Bedek en laat vir 10 minute prut. Haal dan die deksel af en laat reduseer tot die sous stroperig is. Voeg ’n klontjie botter by aan die einde. Heerlik saam met ’n vars groenslaai.

Kasslertjops met ’n mosterdkors

Voeg by: Broodkrummels

  1. Smeer die mosterd bo-oor die tjops.
  2. Meng 1 e meel met 1 e bruinsuiker, swartpeper en sout na smaak en ’n koppie vol broodkrummels.
  3. Druk die krummelmengsel vas op die vleis, bedruip met ’n bietjie olie of gesmelte botter en bak by 200°C vir 15-20 minute of tot goudbruin. Hierdie gereg is heerlik saam met geroosterde baba-aartappels.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos