Gevierde Afrikaanse musiekante, Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal, span almal saam met ‘n kragvertoning, Die Vyftigers.
Gevierde Afrikaanse musiekante, Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal, span almal saam met ‘n kragvertoning, Die Vyftigers, wat landwyd te sien sal wees.

Die jaar 2025 is ’n jaar van mylpale – Afrikaans vier haar 100ste amptelike bestaansjaar, en vier van die taal se mees oorspronklike, geliefde kunstenaarseuns, vier hul 50ste omwenteling om die son. Die resultaat? 

’n Onvergeetlike vertoning genaamd Die Vyftigers – ’n musikale viering van die lewe, taal, stories, en tyd.
 
Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal – vier unieke stemme in die Afrikaanse musieklandskap – klim saam op een verhoog om hul liefde vir Afrikaans en hul eie halfeeu lange reis te eerbiedig. Dis ’n produksie wat eerlik, rou en reguit is – vol liriek, lag, melodie en menswees.

Die ontstaan van Die Vyftigers, het begin tussen die appelboorde van Grabouw, by Gian groen se 50ste verjaarsdagpartytjie. Tussen kitare, staalsnare en spontane samesyn, het Neil Sandilands die lig gesien: vier musikale vriende, almal besig om die 50 mylpaal te takseer, in dieselfde jaar wat Afrikaans 100 jaar oud word. Dié kreatiewe toeval kon eenvoudig nie geïgnoreer word nie en met net een oproep na elk, was almal aan boord. So word Die Vyftigers gebore – ’n unieke kruispunt tussen taal en tyd.

 Elke kunstenaar bring sy eie storie, instrument en kleur na die verhoog en tussen hul vier loopbane is daar meer as 200 jaar se kreatiewe gravitas – elke noot en elke sin is deurdrenk met betekenis.

GIAN GROEN – Bekend vir ‘Vier Seisoene Kind’, bring sy kenmerkende vingerkitaarstyl en rou stem.

SCHALK JOUBERT – Met dekades se invloed in die musiekbedryf, dien met sy baskitaar as musikale anker en ritmiese gom.

ABEL KRAAMSAAL – Terug op die verhoog na jare in die korporatiewe wêreld, en honger vir die verhoog, bied vars insigte en kragtige lirieke.

NEIL SANDILANDS – Die hofnar en visuele impresario, verbind die produksie met humor, sinisme en teater flair.

Die Vyftigers beloof om ‘n geskiedkunidge Afrkaanse vertoning te wees.

Die Vyftigers is nie net ’n musiekvertoning nie – dis ’n viering. Aan die hand van liedjies uit elk se repertoire, asook nuwe skeppings, wat spesifiek vir hierdie produksie ontwikkel is, neem die kunstenaars gehore op ’n reis deur persoonlike stories, taalgeskiedenis en tydlose klanke. Die vertoning is ten volle in Afrikaans – ’n danksegging aan die taal wat dit alles moontlik maak. Of jy nou ’n aanhanger is van Afrikaanse musiek, die kunstenaars self, of eenvoudig op soek is na iets eg, diep en vermaaklik – hierdie vertoning is ’n moet-sien!

“Wat kry jy as jy vier duidelike persoonlikhede op een verhoog sit, wat elk ’n instrument bespeel, ’n ordentlike liriek kan pen en derms het wat brand? Sprankel ’n aweregse Afrikaanse woordeskat, sprinkel ’n titsel selfnegerende humorsin, ’n spatsel witblitz, ’n slurpie Boere Zen en ’n draggie 50 jaar oue hardehout. Daar het jy dit. Die resep vir ’n aand se eersteklas vermaak: ‘Die Vyftigers’. Amper soos Trompie en die Boksombende. As ek dan nou Trompie is, en Gian is Rooies, Abel is Dawie, Briers Coetzee (ons klank inginieur wat ook kan Cajon speel) is Blikkies, dan is Schalk mos Boesman die brak.” – só sê Neil Sandilands.

Moenie dit misloop nie – een jaar, een taal, vier verjaarsdae, een verhoog. ’n Seldsame belyning van sterre, musiek en moedertaal. Die Vyftigers ’n kultuurgebeurtenis. 

Kaartjies is beperk so bespreek vroegtydig en wees deel van Afrikaanse musiekgeskiedenis.

Die Vyftigers sal te siene wes in Paternostr, Stellenbosch, Durbanville, Strand, St. Francisbaai, Gqeberha, George, Mosselbaai, Hermanus, Kaapstad, Pretoria, Bloemfontein, Welkom, Secunda, Sasolburg, Witrivier en Potchefstroom.

Vir meer inligting, kliek hier: https://linktr.ee/DieVyftigers

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025