‘n Busbestuurder in De Doorns, wat siek gevoel het, is verlede week inderhaas na die ambulansdienste toe geneem, maar daar was glo niemand nie. Die man is oorlede terwyl hy om hulp gewag het.
Verskeie inwoners het op sosiale media gekla dat hulle lank moet wag wanneer ambulansdienste benodig word. Die ambulanse is dikwels reeds met ander pasiënte besig en kan nie onmiddellik reageer nie.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het intussen gevra dat inwoners die nood- nommers 10177 op ‘n landlyn en 112 op ‘n selfoon skakel sodat die naaste beskikbare ambulans gestuur kan word.
Die eienaar van die busdiens vir skoolkinders, wat verkies om anoniem te bly, sê die bestuurder het hom verlede Maandagoggend (15 September) gebel en gesê hy voel sleg. Hy het toe die kinders skool toe geneem.
“Ons het gereël dat een van die ander busbestuurders hom gou oplaai en by die ambulansdienste kry, maar daar was niemand in sig nie. Ons is uit radeloosheid polisiekantoor toe. Niemand daar kon ons help nie.”

Hy sê hulle het baie lank gewag vir iemand om op te daag.
“‘n Ambulans is uiteindelik uit Touwsrivier gestuur, maar dit was te laat,” sê hy.
Die man se lyk het in die bus bly lê totdat hy gehaal kon word.
Shimoney Regter, ‘n woord- voerder by die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die voorval bevestig.
“Die De Doorns-polisie het die oggend van 15 September om 06:59 [gebel] oor ‘n pasiënt wat mediese sorg benodig het. Ons nooddienste se kommunikasiesentrum het dadelik reageer en die naaste ambulans uitgestuur,” sê sy. “Die span van die De Doorns-ambulans was op pad terug nadat hulle ‘n pasiënt na die Worcester- provinsiale hospitaal geneem het en was nog nie terug by die basis nie. ‘n Ambulans van Touwsrivier is om 07:02 gestuur.
“ ’n Mediese noodwerker van die De Doorns-ambulansdiens het na die pasiënt omgesien voordat die ambulans opgedaag het. Die pasiënt was met die ambulans se aankoms ongelukkig reeds oorlede.
“Vir mediese noodgevalle moedig ons die publiek aan om 10177 op ‘n landlyn en 112 op ‘n selfoon te skakel.”
Regter het haar meegevoel met die man se familie betuig.






You must be logged in to post a comment.