KAAPSTAD – Die kykNET Buite-ekspo Wes-Kaap word weer die naweek van 13 tot 15 Maart 2026 aangebied op die plaas Môreson net buite Malmesbury. Dit sal die 31ste kykNET Buite-ekspo (tans in sy 15de bestaansjaar) wees en dié suksesvolle konsep lok telkens rondom 20 000 besoekers.
Die ekspo beloof om, soos altyd, iets vir almal te bied. Die fokus is op die groot aantal buitelewe-uitstallers wat van die nuutste produkte tans beskikbaar in die buitelewe- kampeer- en 4×4-mark, aanbied. Onthou die geleentheid word in ‘n veilige plaasatmosfeer aangebied en al die produkte word uitgestal soos wat die koper dit in die praktyk sou gebruik.
Weens die ongekende belangstelling van uitstallers is daar ook 30 addisionele uitstalareas geskep en al die standplase is alreeds ten volle uitverkoop.

Daar word oudergewoonte vanjaar weer verskeie aktiwiteite beplan. Dit sluit in die Maxxis Maniac 4×4-ritte – waar die publiek gratis saam met ervare bestuurders kan ry, en natuurlik André de Villiers se kykNET-hindernisbaan waar jy kan ervaar waartoe van die voertuie werklik in staat is. Hierdie jaar is Suzuki ook aanboord met gratis Jimny 4×4 ervarings.
Kom beleef ook die gewilde helikopterritte en bekyk die Swartland uit die lug saam met Mosselbaai Helikopters.
In 2026 pak hulle die Jimmy’s Sauces-betrokkenheid ’n bietjie anders aan. Buiten die kunstenaarsverhoogborgskap is Jimmy’s ook betrokke by ‘n nuwe konsep wat met groot sukses aangebied is by Hartenbos. Met die naam ‘Pot Vol Liefde’, word daar potjiekos gemaak saam met bekende kykNET-persoonlikhede waarna die maaltye dan aan hulpbehoewende instansies afgelewer word as ‘n Sondagmaal.
Moet ook nie vergeet van hul Jimmy’s Sauces kunstenaars wat gaan optree nie – Wicus van der Merwe, Veldblom, Andriëtte, Brandon Miles met sy orkes, Blackie Swart, David Fourie, Die Broers, Johan Liebenberg, Christo en Cobus, Byron Minnie en ons sluit die Saterdagaand af met Jay. Alhoewel die ekspo nie ‘n musiekfees is nie, bring hulle nogsteeds goeie kunstenaars na die Jimmy’s verhoog toe.

Daar sal natuurlik oudergewoonte ook ‘n groot verskeidenheid en genoeg heerlike ‘vloeibare verversings’ wees – enigiets van ‘n verskeidenheid wyne in die wyntuin (met heerlike deli-produkte wat hierby pas) tot bier bedien by die biertuin asook jou gunstelingdrankies. ‘n Groot verskeidenheid kosverskaffers sal weer sorg dat die mae gevul bly en wie kan nou nee sê vir lekker feeskos?
Vir die dames is die kunsmark met ‘n groot verskeidenheid produkte van goeie gehalte altyd ‘n treffer.
Hulle het ook nie vergeet van die kinders nie en daar is vanjaar ‘n lekker opblaaspretpark van Henties Vrugtesappe, en Liewe Heksie kom verras die kleinspan die Sondagoggend met een van haar treffervertonings.
Onthou, alhoewel baie aktiwiteite aangebied word, bly die fokus op die top- buitelewe-, 4×4- en kampeerprodukuitstallings.
Kampering en ‘glamping”-pakette is beskikbaar deur aanlyn te bespreek – besoek gerus die webwerf vir die inligting.

Dagbesoekerkaartjies is beskikbaar deur Open Tickets, www.ekspo.co.za en ook by die hekke tydens die ekspo. Besoekers word egter aangemoedig om hul kaartjies aanlyn te koop om dinge by die hekke te vergemaklik. Dagbesoekerpryse is baie kompeterend en wissel van R30 vir kinders tot R120 vir volwassenes, afhangend van die dag. Naweekpakkette is ook beskikbaar.
Besoek gerus hul webwerf by www.ekspo.co.za vir meer.






You must be logged in to post a comment.